Die Agri Handboek 5de Uitgawe | Page 133

131 Die eienaar moet die eienaars van aangrensende grond en die brandbestrydingsvereniging (indien daar een is) in kennis stel • indien daar nie op die ooreengekome dag of dae of op enige van die dae gebrand kan word nie; en • omtrent die bykomende dae waarop hy of sy voornemens is om te brand, weens die versuim om dit op die ooreengekome dag of dae te doen. Die eienaar hoef nie 14 dae kennis van die bykomende dae te gee nie. Eienaars van aangrensende grond mag ooreenkom om ’n gemeenskaplike voorbrand ’n ent weg van die grenslyn af te maak. Indien ’n eienaar voornemens is om afwesig te wees vir langer as 14 dae gedurende die tydperk of deel van enige tydperk waartydens daar normaalweg gebrand word, moet hy of sy vir al die eienaars van aangrensende grond ’n adres en telefoonnommer (indien beskikbaar) gee waar hy of sy gekontak kan word. Indien ’n eienaar van aangrensende grond nie teenwoordig is op die dag of dae waarop daar ooreengekom is of waarvan hy of sy in kennis gestel is nie, of nie ’n adres en telefoonnommer (indien beskikbaar) soos vereis in onderartikel (8) gelaat het nie, mag die eienaar in sy of haar afwesigheid met die brand voortgaan. Vereistes vir voorbrande ’n Eienaar is verplig om ’n voorbrand met behoorlike inagneming van die weer, klimaat, terrein en plantegroei voor te berei en in stand te hou. Die eienaar moet toesien dat so ’n voorbrand breed en lank genoeg is om met redelike sekerheid die verspreiding van ’n veldbrand na of van aangrensende grond te kan voorkom. Verder moet dit nie gronderosie veroorsaak nie en betreklik vry wees van ontvlambare materiaal wat ’n veldbrand oor die voorbrandstrook kan laat “spring”. Bron: LWO – Landbouwerkgewersorganisasie. Besoek www.lwo.co.za. 4. Brandbestrydingsverenigings Die Nasionale Wet op Veld- en Bosbrande (“National Veld and Forest Fires Act”) van 1998 bied ’n raamwerk vir eienaars om brandbestuur te organiseer en saam te werk. Raadpleeg die Wet by www.daff.gov.za. As alternatief kan ’n mens van die rolspelers wat in hierdie hoofstuk genoem word kontak. Die vorming van vrywillige brandbestrydingsverenigings (FPA’s) is een manier om veldbrande landswyd te verhoed, te bekamp en te bestuur. Die doel met FPA’s is om oorkoepelende, gekoördineerde ondersteuning in provinsies te gee – ondersteuning vir brandbestryding vanuit die lug, vinnige taakspanne, weervoorspellingsdienste ten opsigte van brande en die koördinering van data en opleiding oor brande. Lede word gewerf uit die plaaslike gemeenskap en owerhede, boere, inwoners, grondeienaars, natuurbewaring, munisipale brandweerdienste, ensovoorts. Deur middel van die FPA kan boere (en ander) hul hulpbronne saamvoeg en gesamentlik veldbrandbestuurstrategieë vir hul omgewings ontwikkel en impleme