118
hulpbronne en goeie
landboupraktyk
Bewaringsgebiede en boerdery
1. Oorsig
Die landbousektor gebruik ongeveer 80% van Suid-Afrika se 120 miljoen
hektaar grondoppervlakte, wat van ons land se sensitiefste ekosisteme
insluit. Baie van ons land se boere is inderdaad goeie bewaarders van die
grond. Ongelukkig dwing die immer toenemende finansiële, hulpbron- en
mannekraglaste, waaronder ons landboubedryf gebuk gaan, baie boere
om elke deel van hul grond winsgewend te probeer gebruik. Dit kan ’n
negatiewe uitwerking op ons biofisiese omgewing hê.
Bewaringsgebiede vind ’n gemeenskaplike terrein en skep ’n betekenisvolle
vennootskap tussen natuurbewaring en landbou.
2. Bewaringsgebiede
’n Bewaringsgebied is ’n vrywillige verbintenis tussen grondgebruikers/eienaars wat gesamentlik hul natuurlike hulpbronne op omgewingsvolhoubare
wyse wil bestuur, sonder om noodwendig die grondgebruik van hul
eiendomme te verander. Registrasie word deur die toepaslike provinsiale
natuurbewaringsowerheid gedoen.
’n Bewaringsgebied is NIE ’n miniatuur-wildtuin of natuurreservaat nie
(selfs al is die bedoeling om op wildvriendelike en natuurvriendelike wyse
te boer). ’n Bewaringsgebied is ’n vrywillige en gesamentlike aksie deur
grondeienaars/-gebruikers om vir die hunkering in hulle siele voorsiening te
maak, na byvoorbeeld ruimte, stilte en die estetiese terapie van natuurlike
skoonheid, en hierdeur gedwing word om die behoeftes van die natuur in
ag te neem. Om in ’n bewaringsgebied te woon en/of te werk, impliseer
nie dat ’n mens die vorm van jou grondgebruik hoef te verander nie, of dat
jou transportakte gewysig gaan word nie. Dit impliseer ook nie dat iemand
jou geld as vergoeding gaan aanbied vir die tyd, moeite en geld wat jy in die
kwaliteit van jou eie lewe en in die algemene belang belê het nie.
Om in ’n bewaringsgebied te woon, impliseer wel dat elke individu stadig
maar seker die gevolge – positief sowel as negatief – van sy of haar dade
begin oorweeg: die gevolge vir homself/haarself, die gesin, bure, die
gemeenskap, eie eiendom, aangrensende eiendomme, die bewaringsgebied
as geheel en uiteindelik selfs nog wyer. ’n Rivier vloei byvoorbeeld nie deur
net een kleinhoewe, plaas of selfs bewaringsgebied nie.
’n Bewaringsgebied sien om na die natuur se belange omdat daar aanvaar
word dat sowel die mens as die natuur se ‘beste belang’ onlosmaaklik aan
mekaar verbonde is. Wat vir die een goed is, is goed vir die ander vice versa.
. In ’n bewaringsgebied word mense as ’n sleutelspesie van die ekosisteem
of agroëkosisteem beskou en moet hulle leer om sodanig met ander
lewensvorme om te gaan dat die meeste spesies kan voortbestaan.
Die woorde “ekologie” en “ekonomie” is albei van die Griekse stam oikos
afkomstig, wat as ‘huishouding’ vertaal kan word. Die gedagte dat dit wat
in ons beste belang is, ook in die natuur se belang is en omgekeerd, is dalk
nie so vergesog nie.
3. Die argument ten gunste van
bewaringsgebiede
Suid-Afrika se wildtuine en natuurreservate is nie voldoende vir die bewaring
van biodiversiteit nie, bloot omdat die meeste van ons biodiversiteit buite
hierdie formeel beskermde gebiede bestaan.
Bewaringsgebiede bring talle voordele vir biodiversiteit asook vir die
gemeenskappe wat in die gebiede woon of boer:
• Biodiversiteit oorleef en fisiese hulpbronne word bewaar.
• Uitheemse plante en diere word gerapporteer, gekontroleer en
gesamentlik bestuur.
• Die wild vermeerder in bewaringsgebiede.
• Die ekonomiese waarde van die gebied word verbeter weens die
gesonder veldtoestande en beter algehele sekuriteit.
• Grondeienaars raak meer bewus van hul inheemse dier- en plantlewe.
• Wild raak makker en kan makliker gesien word, maar word terselfdertyd
beskerm.
• Bewaringsgebiede word op groot skaal gebruik om gerehabiliteerde
wildlewe vry te laat in samewerking met FreeME. Kyk www.freeme.
co.org.za.
• ’n Hegter gemeenskap word gevorm.
• Plaaslike bevolkings ondersteun gewoonlik die teenwoordigheid van
wildbewaarders.
• Rondlopers vermy gewoonlik ’n gebied wat gereeld gepatrolleer
word.
• Die plaaslike bevolking word minder lastig geval.
• Vee- en oesdiefstal in die bewaringsgebied neem merkbaar af.
• Beter beheer oor rondloperhonde verminder jag deur honde en die
moontlikheid van hondsdolheid.
• Grensdrade word meer gereeld gepatrolleer.
• Pompe en watergate word meer gereeld gepatrolleer.
• Minder onbeheerste bos- en veldbrande kom in die omgewing voor
weens gesamentlike brandbestuurstrategieë.
• Daar is beter algemene sekuriteit.
• Nuwe vaardighede word ontwikkel. Bewaring deur mense vir mense
(bewaringsgebiede) is ’n nuwe bewaringsetiek wat ‘saambestaan’
eerder as ‘segregasie’ beliggaam. Presies hoe dit beplan en bestuur
moet word, sal ’n groot uitdaging vir plaaslike inwoners wees, maar dit
sal ook die middel wees waarmee die wonde van die verlede genees
en ’n waardige bestaan gevoer kan word. Ons moet sodanig met
die natuur saamleef dat die meeste spesies tot diep in die volgende
eeu sal kan oorleef. Om dit te laat realiseer, sal plaaslike mense baie
vaardighede moet ontwikkel.
• Dit versterk die gebruik van die distrik vir natuurgebaseerde
onderwys.
• Dit vergroot die geleentheid vir eko-/agrotoerisme.
• ’n Maatskaplike, kulturele en natuurlike omgewing wat oor die
algemeen beter is, lei tot ’n gesonder omgewing, wat op sy beurt
meebring dat gemeenskappe meer trots op hul omgewing voel.
4. Watter soorte bewaringsgebiede is daar?
Die algemeenste soorte bewaringsgebiede in Suid-Afrika val in die volgende
kategorieë:
• landelik (bv. met
natuurbewarings- of grond
versorgingsbeweegredes)
• landbou
• stedelik – in stedelike
woongebiede
• buitestedelik
• industrieel – in
nywerheidsgebiede
• informele nedersettings
• see & kus – in die
see- en kusgebiede
Sommige provinsies het ook ander soorte bewaringsgebiede:
• opvoedkundige bewaringsgebiede, bv. op of rondom kampusse en
skoolterreine
• habitatbewaringsgebiede; gevestig om spesifieke bedreigde habitats
te beskerm of te bewaar, soos die Brulpadda pan-bewaringsgebied in
Gauteng
• kulturele bewaringsgebiede – om plekke van kulturele of historiese
waarde te beskerm
5. Veldwagters
In landelike en landboudistrikte waar ’n bewaringsgebied gevorm is, is dit
raadsaam om veldwagters in diens te neem. Dit is egter ’n kwessie van
keuse en behoefte.
Daar is vanselfsprekend koste by die indiensneming van veldwagters
betrokke. ’n Mens moet egter besluit of dit opweeg teen die besparing
vir ’n gemeenskap deur groter beskerming van natuurlike hulpbronne in
die omgewing, deeglike instandhouding van grense en beter beskerming
van lewende hawe en gewasse deur ’n doeltreffender “grondvlak”rapporteringstelsel.