Die Agri Handboek 5de Uitgawe | Page 119

117 Wanneer afvalolie nie verbrand word nie, word dit dikwels gebruik om houtpale mee te behandel. Hoewel dit algemene praktyk is, ontmoedig bestuurspraktyke vir gevaarlike afvalstowwe hierdie gebruik en word daar aanbeveel dat dit korrek behandel word voor daar van ontslae geraak word. Grondbestuur Monokultuur kan die plaaslike ekosisteem beïnvloed en dit is dus beter om eerder wisselbou te beoefen. Die natuur hou niks van monokultuur nie: as ’n mens natuurlike plant- en dieromgewings ondersoek, sal jy ’n groot verskeidenheid spesies vind. Indien een spesie begin oorheers, sal die een of ander gebeurtenis, plaag of siekte waarskynlik ontwikkel om dit uit te skakel. Die mens het tot op hede daarin geslaag om hierdie wet te trotseer deur die toepassing van al hoe sterker chemiese beheermetodes, maar die plae (veral die virusse wat vinnig evolueer) pas baie vinnig aan om elke nuwe soort chemikalie te weerstaan. Chemici is vandag net ’n kortkop voor die siekteplae. Die toediening van kunsmis vereis goeie kennis van grond, omdat oortoediening die gehalte van die grond kan verswak. Die langtermyngebruik van kunsmis in een area kan ook negatiewe gevolge hê en daarom behoort meer natuurlike metodes gevolg te word om die grondgehalte te herstel. Gronderosie is ook ’n omgewingsgevolg wat met swak landboumetodes verband hou. Stof Sommige onkruid- en plaagdoders bly in die boonste grondlaag en die stof wat tydens verbouing ontstaan, dra dit maklik oor op kwesbare en eetbare gewasse. Die teenwoordigheid van stof op plante (naby paaie, ens.) bevorder die aanpak van skubbe en rooimyte op katoen, sitrus en ander gewasse. Die produksie van soliede afval Die afval op plase wat kommer wek, is die gevaarlike afvalstowwe. Dit is wel nie in baie groot hoeveelhede nie, maar hul uitwerking op die omgewing noodsaak beter bestuur. Plastiek- en PVC-afvalprodukte is nie noodwendig gevaarlik nie, tensy dit teen lae temperature verbrand word. Fluoorligbuise bevat kwik en word as gevaarlike afvalprodukte beskou. Gebruikte batterye is ook gevaarlike soliede afvalprodukte op plase (veral by werkers se huise) en kan groot hoeveelhede beloop. Al hierdie afvalprodukte verg omsigtige omgewingsbestuur. Algemene (lae-/nie gevaarlike) soliede afvalprodukte wat in die opstal, asook in werkers se huise en kampe geproduseer word, is nog ’n belangrike omgewingsbestuurskwessie, hoofsaaklik weens die volumes waarvan ontslae geraak moet word. In talle landelike gebiede waar plase geleë is, is die munisipale stortingsterreine so ver dat dit nie ekonomies uitvoerbaar is om van soliede afval ontslae te raak nie. Die verbranding van huishoudelike afval en informele grondopvulling en terreinstorting is baie algemeen. Dit hou egter potensiële omgewingsprobleme in wat aangespreek moet word. Die verbranding van plastiek en polistireen moet vermy word en terreine waar afvalstowwe begrawe word, moet ver van omgewingsensitiewe gebiede gevestig word. Gevaarlike afvalstowwe moenie informeel verbrand of begrawe word nie. ’n Groot gedeelte van soliede afvalstrome kan beperk word deur die gebruik van verminderings-, hergebruiks- en herwinningsopsies. Dit is noodsaaklik om afvalstrome reeds by die oorsprong te skei sodat afvalstowwe en -produkte beter bestuur kan word. Bron: Claire Janisch. Kontak haar by [email protected] 6. Publikasies en webtuistes Manure Handling in Intensive Animal Production Units in South Africa geskryf deur H.T. Breedt, geredigeer en hersien deur F. Cilliers. Outeursreg. 2009. Skakel 012 842 4000 of e-pos [email protected] om ’n afskrif van die LNR in Silverton te bekom. Die Kode van beste praktyk vir wolskaapboerdery in Suid-Afrika uitgegee deur die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) sluit aantekeninge in oor afvalbestuur asook ander inligting. Kry die dokument op www.nwkv.co.za. Managing Our Natural Resources William G. Camp; Betty Heath-Camp, ISBN: 9781428318687, April 2008. Die opgedateerde, vyfde uitgawe van hierdie inleidende boek gee ’n oorsig van die breë terrein van natuurlike hulpbronbestuur, en strek van bosbou en luggehalte, tot wildlewebestuur en die bestuur van soliede afval. Nuwe gevallestudies ondersoek die werklike lewe-vraagstukke wat huidiglik in natuurlike hulpbronbestuur aangetref word. Water & Sanitation Africa – complete water resource and wastewater management. ’n Tweemaandelikse tydskrif van 3S Media. Skakel 011 531 3300 of besoek www.3smedia.co.za. • Besoek die webtuistes van maatskappye en organisasies wat onder opskrif 4 genoem word, waarvan sommige nasionale en internasionale skakels bevat. • Lees oor die South African National Waste Management Strategy Implementation Project by www.nwmsi.co.za. • Kry verskeie dokumente (byvoorbeeld riglyne vir die gebruik van landbouslyk en gryswater op kleinskaalse landbou ens.) op die webtuiste van die Waternavorsingsraad, www.wrc.org.za. • Toxipidia is ’n vry toksilogie ensiklopedie. Gaan na www.toxipedia.org • www.ewasteguide.info - E-afval kan meer as eenduisend verskillende stowwe bevat waarvan baie toksies is. In 2011 het die United National Environment programme(UNEP) geraam dat die vlak van e-afval wat wêreldwyd vervaardig word veertig miljoen ton per jaar is • ’n Aantal referate oor afvalbestuur is op www.goatconnection.com beskikbaar, bv. Manure management and the potential for fly, odour, and water-pollution problems. • Die “dokumentbiblioteek” by www.dwa.gov.za bevat onder meer inligting oor beleidvorming en regsaspekte rakende