risiko van vergiftiging uit. Helicoverpa armigera
(die Afrika bolwurm) is ‘n gedugte vyand
wat allerhande skades aan kontakgewasse,
groente en vrugte kan veroorsaak. Dit is
kommerwekkend dat boere onverhoeds
deur die Afrika bolwurm betrap is en daarom
behoort riglyne voor te hou vir die sinvolle
bestuur van hierdie belangrike landbouplaag.
Wanneer gewasse soos kanola aangeplant
word, is die plaagbeheersiklus alreeds in volle
swang die dag wat die trekkers die laaste pit
geplant het. Die natuur se honger hordes
sit en wag vir die gewas om te ontkiem en
berei hulleself voor om sodanige gewas op
die geskikte tyd in te val. Verlede jaar se
uitbraak en ook onlangse gevalle in die Wes-
Kaapse Overbergdistrik laat weereens die
klem op geïntegreerde plaagbeheer (GIP) val.
GIP beteken nie noodwendig om allerhande
foefies in die beheerprogram in te werk nie
maar eerder om slim te werk te gaan.
Monitering
Dink aan plaagbeheer in ‘n militêre konteks:
as die generaal nie die vyand se ontplooiings
en bewegings uiters fyn dophou nie, is die
kans om hulle die loef af te steek, uiters skraal.
Mens leer ook in militêre doktrine dat die
vyand aangeval moet word as hy op sy mees
kwesbare is. Vir die gewasboer is die parallel
met die militêr om die situasie voortdurend
met valkoë dop te hou. Voor die ontwikkeling
van feromoon lokmiddels het dit beteken dat
die gewas ten minste elke dag besoek moes
word om te bepaal welke ongenooides hulle
opwagting gemaak het. Sulke inspeksies bly
steeds uiters waardevol want dit is wanneer
die produsent eierpakkies mag raakloop wat
sal beteken die aanslag is oppad. Laatmiddag
en vroegaand besoeke is net so waardevol
want as die flits se ligstraal wolke van motte
optel is die vyand se eerste linie aanval reeds
geloods. Die eierpakkies beteken hulle is in
die loopgrawe en maak gereed vir ‘n infanterie
aanval.
Gelukkig is feromone deesdae beskikbaar (kyk
www.agri-intel.com onder “African bollworm”
by die soekenjins) en dit maak vooraf
waarskuwing baie maklik en effektief vir die
boer. Let wel dat feromone nie totaal spesie-
spesifiek is nie en daarom is identifikasie van
die motte wat in die lokvalle gevang word,
baie belangrik. Die internet is waardevol
maar mag as gevolg van onbevestigde data
AgriKultuur |AgriCulture
nie noodwendig wetenskaplik korrek wees
nie. Dit is waar CropLife Suid-Afrika met sy
magdom wetenskaplikes van waarde is en ‘n
goeie foto van die insekte hetsy as larwes of
as motte kan per epos of selfoon aangestuur
word vir hulp met identifikasie. Whatsapp het
ons verlede jaar gehelp om landswyd vir boere
die verskillende Lepidoptera te identifiseer al
het sommige wetenskaplikes elders in Afrika
gewerk. Daar is ook uitstekende boeke soos
die “bybel” oor insekplae onder die titel Insects
of Cultivated Plants and Natural Pastures in
Southern Africa onder redaksie van Gerhard
L. Prinsloo en Vivienne M. Uys. Kortom dus,
om peste en plae te identifiseer is deesdae nie
meer ‘n wetenskaplike missie nie.
Die feromoonlokvalle lok die vlieënde
insekte aan met geslagslokmiddels of sosiale
lokmiddels. Etikette sal aandui hoe dit ontplooi
moet word en as daar soggens ‘n hele bondel
motte is, dan moet die boer voorberei vir die
moeilikheid. Hou die gewas fyn dop en soek
die eierpakkies wat op die blare gedeponeer
word. Onthou, daardie soldate is nog veilig
in die loopgrawe en mens moet wag tot hulle
uitbroei voor jy die aanval loods.
Sinvolle beheermaatreëls
Die pas uitgebroeide larwes (wurms) is op
hulle mees kwesbare vir plaagdoders en as die
boer dan die aanslag met ‘n geregistreerde
middel loods, is die kans op sukses baie,
baie goed. In terme van GIP is die beginsel
om sag te begin, met ander woorde gebruik
landboumiddels (plaagdoders) wat nie die
natuurlike roofinsekte saam met die larwes
van die bolwurms gaan vernietig nie. Dit
is uiters belangrik omdat die opvolgende
geslagte van die plaagspesie waarskynlik die
roofinsekte ten prooi sal val as hulle behoue
bly. Soms is ‘n biologiese middels soos Bacillus
thuringiensis waarskynlik die beste om mee
te begin want dit is sag, dog effektief en gee
die roofinsekte dan kans om tande te slyp vir
opvolg uitbrake.
As produsente nagelaat het om die monitering
te doen en die plaag oorval die gewas moet
die groot hamers ongelukkig gebruik word
om totale oesverlies te voorkom. Kies dan
ook middels uit die wat vir die bolwurm
geregistreer is, wat vinnig uitklop. Metomiel is
soos reeds vermeld wel baie giftig maar slaan
die wurms blitsig uit en dit is wel vir kanola en
koring geregistreer.
11