Agri Kultuur November / November 2014 | Page 25

Nuttige wenk: Donkerkleur gronde word meestal vinniger warm as ligtekleur gronde. As lande verskillend afdroog sal die droër dele gewoonlik warmer wees as die natter dele. By lande met verminderde bewerking sal oneweredige verspreiding van oesreste ʼn betekenisvolle invloed op grondtemperatuur uitoefen. Die beter bedekte dele sal stadiger warm word as die kaal kolle. Wisselende planter dieptebeheer veroorsaak dat die saad wat effens dieper geplant word in koeler grond geplaas word as die res, wat tot onegalige opkoms kan lei. Gebruik doelgemaakte ry skoonmaak toerusting wat aan planter geheg word om oesreste te verwyder op die ry sodat die sonlig die plantry vinniger kan verwarm. Voldoende en uniforme saad-totgrond kontak. Dit is noodsaaklik vir vinnige vogopname dat saad geheel en al oral in kontak met die grond moet wees. Vir die toedruk wielietjies om reg te werk moet die regte afwaartse druk vir elke grondtipe gebruik word. Indien die saadbedvoorbereiding in te nat of te droë grond plaasvind vorm kluite en word ʼn saad-tot-kluit kontak verkry wat ongewens is. ʼn Saad-tot-oesres kontak word verkry indien die deklaag nog te nat is of as oopsny skare stomp of verkeerd gestel is. Saad-tot-klip kontak, nodeloos om te sê is nie goed nie en so ook nie vir ontkieming nie. Saad-tot-lug kontak moet ten alle tye vermy word. Dit kan voorkom word deur drukwiele korrek te stel. Nuttige wenk: Ry skoonmaak toerusting wat aan die planter geheg word kan nuttig gebruik word om oesreste, klippe en klonte te verwyder. Dit help die planter om die saad beter te plaas en toe te trap. Ander toerusting wat kan help om die saad in die plantervoor vas te trap sal beter saad-tot-grond kontak en eenvormige pitplasing vir optimale ontkieming. Vermy korsvorming op die grondoppervlak. Ernstige korsvorming op die grondoppervlakte of enige kompaksie sal die koleoptiel se drukvermoë beperk of veroorsaak dat dit onder die grond oopgaan of dit laat afsterf. Indien die grond baie kluiterig is kan die sonstrale(lig) tussen die kluite indring en koleoptiel kan onder die kluite oopgaan. Nuttige wenk: Vermy oormatige bewerking van die saadbed net voor plant veral as reën na plant en voor opkoms voorspel word. ʼn Poeieragtige saadbed vorm maklik ʼn kors. Vermy oormatige afwaartse druk op die toemaak wielietjies van die planter veral as die grond baie nat is. In te nat toestande kan die plantervoor toe smeer wat swak saailing ontkwikkeling tot gevolg kan hê. Vir meer inligting kontak Nico Barnard 082 850 1503 [email protected]