Senwesbel Annual Reports Senwesbel 2013/2014 Jaarverslag | Page 6

Voorsittersverslag Geagte Aandeelhouer As beleggingsbeheermaatskappy en meerderheidsaandeelhouer van Senwes Beperk, rapporteer ons met vreugde dat die Groep in staat was om voort te gaan met die sluit van strategiese vennootskappe. Die proses het deel gevorm van konsolidasie in die landbou-omgewing. Nieteenstaande twee opvolgende droogtejare was die Senwes Groep steeds in staat om voort te bou op sy strategiese pad na 2020. Die bedryfsmaatskappy moes ‘n laer volumevloei deur die silonetwerk sowel as laer spanderingspatrone deur landbouprodusente op kapitaalgoedere en insetprodukte hanteer. Gedurende die jaar onder oorsig het Grindrod Trading Holdings (Edms) Bpk, ‘n logistieke maatskappy in die Remgro stal, ‘n 20% aandeelhouding in Senwes Beperk bekom. Grindrod het die infrastruktuur en batebasis wat hom ‘n belangrike rolspeler in die sagtekommoditeitswaardeketting maak. Die 51% aandeelhouding van Senwesbel, plus die aandeelhouding van Grindrod, maak dit moontlik vir die Groep om bepaalde voordeel te trek uit hierdie verhouding. Sinergieë kan nou verken word met Grindrod se krag in verskeping en logistiek, wat bepaalde ondersteuning aan Senwes se graanverhandelingsbeen bied ten opsigte van uitvoere. Grindrod word verteenwoordig deur ‘n direkteur op die Direksie van Senwes. Gedurende die paar maande sedert dié verkryging, het Grindrod homself bewys as ‘n betroubare en waardevolle vennoot en ons sien uit na die verdere verkenning van geleenthede tussen die maatskappye. Senwesbel het sy voorneme om met NWK Beherend Beperk van Lichtenburg saam te smelt aangekondig, wat ook belyn is met sy strategiese fokus van konsolidasie in die landbousektor. Ons sien uit daarna om hande te vat met NWK. Die nuwe produsentehouermaatskappy kan as platform dien vir verdere transaksies. Die transaksie is so gestruktureer dat Senwesbel die voertuig sal word vir ‘n nuwe houermaatskappy vir beide bedryfsmaatskappye. Die huidige aandeelhouers van Senwesbel sal 59% van die aandele in die nuwe houermaatskappy hou en die huidige aandeelhouers van NWK Beherend Beperk sal 41% van die aandele hou. Die nuwe houermaatskappy sal die meerderheidsaandeelhouer in NWK (59%) en Senwes (51%) wees. Die bedryfsmaatskappye sal voortgaan om outonoom besigheid te bedryf. Internasionale mededingers belê toenemend in Afrika en Suid-Afrikaanse beleggers soek aktief beleggings- geleenthede in die Suidelike Afrika landbousektor. Die tydsberekening van ons transaksie is gunstig. ʼn Meer kompeterende, gediversifiseerde landbou- beleggingshouermaatskappy, wat beheer word deur produsente, sal suksesvol kan reageer op hierdie veranderende marktoestande. 5 Senwesbel Verkorte Jaarverslag 2014