Senwesbel Annual Reports Senwesbel 2013/2014 Jaarverslag | Page 7

Weens sterk mededinging deur internasionale en plaaslike rolspelers in die verkryging van graan en die verskaffing van insetprodukte, sal die groter produsente-aandeelhouersblok, wat geskep sal word deur die Senwesbel en NWK Beherend samesmelting, in staat wees om plaaslike en internasionale geleenthede te verken en om terselfdertyd geografiese en kommoditeitsrisiko’s te mitigeer. Die voorgestelde samesmelting is nog onderworpe aan aandeelhouersgoedkeuring, sowel as regulatoriese goedkeuring deur byvoorbeeld die Mededingingskommissie. Senwes het ook ‘n transaksie aangegaan met AFGRI gedurende die jaar in terme waarvan die twee landboudienstemaatskappye hul landboukleinhandelsbesighede en Prodist, die AFGRI groothandelsfiliaal, saamgesmelt het. Die partye is gelyke aandeelhouers in die gesamentlike onderneming. Elke party sal voortgaan met die bedryf van sy eie meganisasiebesigheid, wat die John Deere agentskappe insluit. Die transaksie is steeds in ‘n implementeringsfase en ons verwag dat dit verhoogde verdienste vir beide Senwes en AFGRI sal meebring. Sinergieë en verhoogde ekonomieë van skaal behoort by te dra tot laer pryse en ‘n beter en breër produkaanbod aan verbruikers. Dit het ook bygedra tot die mitigering van die kommoditeits- en geografiese konsentrasierisiko vir Senwes. Finansiële hoogtepunte Senwesbel het op Groepsvlak ʼn aandeelhouersopbrengs van R122 miljoen vir sy aandeelhouers gegenereer gedurende die jaar, waarvan R47 miljoen uitbetaal is in die vorm van dividende. Senwesbel het ‘n netto groei in ekwiteit van R147 miljoen gereflekteer en kondig met trots ‘n verdienste per aandeel van 110,8 sent aan, nieteenstaande die moeilike jaar. ‘n Finale dividend van 17 sent per aandeel is voorgestel. Die totale dividend vir die jaar beloop 41 sent per aandeel. Die Senwesbel Direksie wens graag die Senwes Bestuur en personeel geluk met die eienaarskap wat geneem is ten opsigte van die Groep se groeidoelwitte en die handhawing van hoë vlakke van korporatiewe beheer en bestuursfokus onder moeilike omstandighede. Die stabiliteit van die Senwesbel aandeel bied uitstekende sekuriteit vir maand- en produksierekeninge by Senwes. Die komende jaar Ons sien uit na ‘n herstel na volhoubare groei vir Senwes weens beter vooruitsigte vir die 2014/2015 jaar. Verbeterde oesskattings is aangekondig en daar word voorsien dat silovoorraadvlakke dienooreenkomstig sal verhoog. Verhoogde besigheidsvertroue onder produsente behoort spandering ten opsigte van produksie- insette en kapitaalgoedere aan te moedig. Ons sal voortgaan op ons strategiese weg deur die bestuur van die Maatskappy se belegging en die ontginning van konsolidasiegeleenthede in die landbouomgewing. Bedankings Die Direksie bedank graag die bestuur en personeel van ons filiaal, Senwes, vir sy deurlopende entoesiasme en dryf na uitmuntendheid. Ons is ook opreg dankbaar teenoor ons Skepper, op wie ons vertrou om ons te lei in alles wat ons doen. Ek bedank ook graag die Senwesbel Direkteure en ons Maatskappysekretaris, Alwyn Scholtz, vir hul getroue ondersteuning. Dries Kruger Voorsitter Klerksdorp 26 Junie 2014 Senwesbel Verkorte Jaarverslag 2014 6