Senwes Scenario December - January 2021 | Page 6

NUUS

Kersboodskappe

2020 IS SONDER twyfel ʼn jaar wat ons vir altyd sal bybly . Die lewe soos ons dit geken het , het amper oornag tot stilstand gekom . In ons nuwe normaal hang die reuk van ontsmettingsmiddels swaar in die lug en skuil oud en jonk agter ʼn gesigmasker .
Dié jaar sal ook onthou word as die jaar waarin die Suid-Afrikaanse landbou- en voedselsektor sy status as die ruggraat van ekonomiese groei en volhoubaarheid gestand gedoen het . Die sektor het nie net die tweede grootste kommersiële mielieoes ooit gelewer nie , maar ook met meer as 15 % gegroei . Dit alles gedurende ʼn tydperk waarin die nasionale ekonomie ʼn massiewe inkrimping van 51 % beleef het .
Die veerkragtigheid van die sektor het tydens die pandemie weereens na vore gekom en ons almal kan ʼn les of twee hieruit leer : saam is ons hande sterkter en ons impak groter , volhard ten spyte van jou omstandighede , moenie jou doelwitte uit die oog verloor nie en verskans teen moeilike tye .
Soos die jaar na sy einde staan , wil ek u bedank vir u deursettingsvermoë en volgehoue passie in ʼn tyd van groot onsekerheid en paniek . Baie dankie ook vir u besigheid . Senwes se hart klop vir sy kliënte en dié besigheidsfilosofie gee reeds vir 111 jaar die deurslag in al ons aktiwiteite en besluite . Een so ʼn besluit was die samesmelting van Suidwes as deel van die Senwes Groep en ons is opgewonde oor die waarde wat hierdie groter gekombineerde landboubesigheid tot gevolg gaan hê .
Danksy julle , ons boerekliënte en ons kliënte in die verdere verwerkingskettings , kan ons aktief deelneem aan die opbou , uitbou en voortbou van die Suid-Afrikaanse landbou- en voedselsektor .
Ek wens vir u hierdie Kersseisoen rus en vrede en hartlike samesyn met u geliefdes toe . Mag die nuwe jaar ʼn tyd van seën wees en mag voorspoed elkeen se deel wees .
Vriendelike groete van die Senwesspan .
Francois Strydom Senwes HUB
4
SENWES SCENARIO | SOMER SUMMER 2020