2018 merk die 50ste bestaansjaar van Karlien, ons huis en ons trots. As ek dink aan 50 jaar, is die eerste gedagte wat by my opkom herinneringe. Karlien het hierdie jaar vir my, ‘n trotse Karliener, so baie stories gegee om te vertel en herinneringe geskep wat ek diep in my hart koester, my brein wil nie begryp hoeveel stories en herinneringe daar in ons huis, Karlien, gekweek is oor 50 jaar nie. Die tweede gedagte wat by my opkom is ‘n gevoel van trots. Elke Karliener sal saamstem dat ons ‘n trots het vir ons huis, wat bitter moeilik is om in woorde te beskryf. Dat net die naam Karlien, ‘n warm gevoel diep uit jou hart opstoot.
“As daar iets is wat ek oor 50 jaar steeds wil sien in Karlien, is dit die besonderse sussieskap wat heers onder ons dames.” Tau Tau, ons Primaria, het aan my vertel dat dit een van die vele eienskappe is wat Karlien onderskei van ander dameskoshuise. Dit, en die “vibe” wat ‘n Karliener het. “Ons is lekker mense,” het sy gesê. Die einste feit is beaam deur Urf, een van ons Superbia-lede. Syt gese haar heel gunsteling tradisie is Karlien verjaar, want niemand kan partytjie hou soos Karlien nie. Hierdie jaar het beslis nie teleurgestel nie, ons het immers dié GROOT 50 gevier.
Die 50jaar reunie was beslis ‘n hoogtepunt van die jaar. Twee Karlieners wat deel was van die heel eerste groep eerstejaars van Karlien het van hul stories gedeel. Prof Fika, het stories gedeel van sy tyd as koshuisvader. Oud Karlieners en
huidige Karlienershet lekker saam gekuier wat mens tot die besef laat kom dat jy deel is van ‘n groter familie, ‘n trotse familie.
“Karlien het vir my ‘n nuwe boek gegee, ‘n nuwe begin, waar ek oor kon begin skryf en nuut kon begin danksy my bynaam. Dis ‘n boek waaraan ek aanhou wil skryf, omdat ek so trots is daarop, ” het Tau Tau aan my vertel toe ek haar vra wat vir haar die mooiste Karlien herinnering is. Dit is een van Karlien se oudste en mees besonderse tradisies.
Daar is so baie stories en ervarings wat genoem kan word, maar op die einde van die dag skryf elke Karliener haar eie Karlienboek, wat virseker topverkoper op internasionale vlak kon wees.
Feesvieringe is nodig en dit is behoorlik gedoen hierdie jaar, maar ek voel dit is nodig om ook dankie te sê. So Karlien, dankie vir 50 jaar, dankie vir die nuwe begin wat jy aan elke Karliener gee. Dankie dat jy oor die jare jou inwoners bind tot ‘n sussieskap wat elkeen koester. Dankie vir die stories.
Karlien, mag jy in die volgende 50 jaar van strekte tot sterkte gaan, mag jy al ons stoutste verwagtinge oortref en mag jy, oor 50 jaar, steeds die beste huis op die PUK wees.
Want Karlien is nie ‘n naam, dis ‘n spangees wat sewe vloere staan.
-Beth