Parys Crater Street Mile 2024 | Page 58

PARYS PEOPLE
terwyl ons op ‘ n bankie langs die rivier sit of in die Salignaparkie wat so spesiaal vir my is . Hulle kon oral saamgaan en het net so hard help soek vir mooi koerantfoto ’ s . Selfs my universiteitskind het nou die dag opgemerk dat huis-toekom is soos om op vakansie te wees . Daar is maar een dorp soos Parys - hy groei soos mos op jou .
4 . Vertel vir ons van kere wat verslaggewing jou hartsnare geroer het of jou lagspiere gekielie het . Ek dink van die hartseerste stories wat my altyd sal bybly , was ‘ n pa wat sy dogtertjie in ‘ n ongeluk op die Potch-pad aan die dood moes afgee . Die gesig van die dogtertjielyfie in sy arms sal my altyd bybly . So ook die rou emosie en absolute verslaentheid op die toneel waar twee elektrisiëns gesterf het in Boomstraat . Min het ek kon dink dat ‘ n derde elektrisiën met wie ek op die toneel gepraat het oomblikke later ook in ‘ n motorongeluk sou sterf terwyl ons nog op die eerste toneel was .
Daar was oor dertig jaar so baie van die dorp en sy mense se leef waaroor ek geskryf het . Daar was die storie oor tannie Engela van Greuning wat brei omdat geen kind ooit sonder trui , mus of handskoene in hierdie koue mag wees nie . Haar kinderlike vertroue dat die Here die wol sal voorsien selfs wanneer die geldblikkie leeg is .
Die storie van Willemien se lyding na ‘ n motorfietsongeluk en hoe ‘ n jong ma se lewe in ‘ n oogwink van haar weggeneem is as gevolg van ‘ n gesondheidstelsel wat haar gefaal het . Daar was lang en moeilike dae as ek verslag in die hof moes doen . Ook dosyne groot visse en yslike groentes wat die skaal laat kreun het , wat ek oor die jare afgeneem het .
Ek het Jak de Priester nog as skoolseun by Hoërskool Parys afgeneem . So ook ons dorp se eie oogkundige Annemarie Smit van Provision en fisioterapeut Stephanie Heathcote - om maar net ‘ n paar te noem . Sedertdien het ek ook al die voorreg gehad om hulle kinders af te neem .
5 . Hoe het 2020 se Covid-grendeltydperk Parys Gazette beïnvloed ? Tydens die grendel-ellende was daar soveel nood waarin voorsien kon word uit dit wat op Gazette-blaaie geskryf is . Waar ookal die nood was - ek kon net skryf en mense het gehelp . Spontaan , uit die hart en in oorvloed . Dit is hoe ek Parys se mense oor so baie jare leer ken het .
6 . Wat is vir jou die lekkerste en moeilikste van joernaliswees op die platteland ? Ek het die voorreg om oor soveel mense se vreugdes , sukses maar ook diepste hartseer te kon skryf - dikwels ook die laaste doodsberig . Veral dit vang my steeds , want dis oor my mense wat ek skryf . Maar ek voel ongelooflik trots as ek in die polisiestasie of apteek instap , in ‘ n skoolkantoor of agter ‘ n winkeltoonbank , en die Gazette-berigte opgeplak sien - dan weet ek koerante maak saak .
7 . As dit jou nie beskore was om ’ n joernalis te word nie , wat was jou Plan B ? Dalk ‘ n metereoloog .
8 . Waarop is jy die heel trotsste as dit by ons dorpie Parys kom ? Die manier hoe Parys se mense in tyd van nood laer trek en saamstaan . Die Pride of Indias wat jaar na jaar hul pers en pienk en wit tooisels wys , sonsopkomste en -ondergange - dis nêrens in die land so perfek geskilder soos hier nie , die geluid van die rivier as hy bokspring in vloed . Dit is Parys vir my .
9 . Hoe voel jy oor die een na die ander papierkoerant wat nou oorskakel na slegs-digitaal ? Dink jy dit is ook Parys Gazette se voorland ? Die stryd tussen papier en skerm kom al lank , maar gemeenskapskoerante het ‘ n unieke plek in ons samelewing , anders as nasionale koerante . Baie gemeenskapskoerante soos ook Parys Gazette staan sterk . Dit vertel steeds ‘ n gemeenskap se storie en is betrokke in ‘ n gemeenskap . Daar is beslis nog ‘ n plek vir gemeenskapskoerante geïnk op papier .
10 . Vertel ons bietjie hoe dinge in die Scheepers-gesin werk rondom Mamma wat eintlik altyd “ aan diens ” is en dikwels oor naweke kliphard werk . Wanneer is “ saktyd ” en hoe werk die gesin se skedule saam met joune ? Ek moes vroeg-vroeg leer om my tyd te bestuur sodat ek daar kon wees vir my gesin se behoeftes maar terselfdertyd ook my alles kon gee vir elke storie waaraan ek werk . Gevolglik is laat aande ook oor naweke my hardste skryftyd wanneer die huis slaap . Dit word deel van jou ritme . Maklik is dit nie , want dit bly moeilik om te verduidelik dat stories nie ophou nie , maar oor jare het my gesin my die ruimte gegee om my passie te leef . Op harde koerantdae - Maandae en veral Dinsdae op saktyd - is dit naby aan 24-uur-skofte . Woensdae as ek die koerant uitlê en afteken vir die drukkers , weet almal in die huis : Ma praat nie vandag baie nie , dis saggies-sluip totdat die koerant ry !
Liezl praat nie daaroor nie , maar ek het ’ n voëltjie hoor fluit dat Parys Gazette laasjaar in die Forum vir Gemeenskapspers se jaarlikse kompetisie vir alle koerante in die land onder die top tien koerante aangewys is in die kategorie vir gratis koerante . Boonop het onse Liezl weggestap met die trofee vir Best Human Interest Stories . Dit verbaas my nie .
Liezl is hierdie jaar weer genomineer onder die top tien vir die beste koerantopskrifte . As ’ n mens kyk na die hoeveelheid inskrywings en aantal publikasies wat elke jaar vir hierdie toekennings ingestuur word , en ook die standaard daarvan , maak dit ’ n mens supertrots op ons dorp se wenkoerant en sy uitsonderlike omgee-joernalis .
As jy ’ n nuuswenk het of voel dat Liezl ’ n berig oor ’ n spesifieke mens , onderwerp of geleentheid moet skryf , kontak haar gerus deur e-pos te stuur aan : gazettenuus @ gmail . com .
58 Parys Crater Street Mile