Musiek 247 vol1 | Page 4

Appelblou

Appelblou – Sonskyn In Die Aand

Een van sy liedjies het in 2009 in een van Clint Eastwood se rolprente verskyn en Daniel Po, hoofsanger van die Engelse Rock/Pop-groep, Daniel Po Band, asook die Afrikaanse weergawe van dié groep, Appelblou, het maar nog net begín om sy vlerke te sprei.

“Die liedjie Colorblind, wat in Invictus verskyn het, was op die kortlys vir die Oscars saam met liedjies deur U2 en ’n paar ander groot name,” sê Daniel.

Alhoewel die liedjie ten einde nie genomineer was nie, is hy trots op die prestasie en dankbaar teenoor almal wat daartoe bygedra het. “Dit het twee musiekvideo’s van ons Engelse groep, Daniel Po Band, tot omtrent 100 000 YouTube-kyke gevat.”

Dit het egter nie daar gestop nie. Appelblou se debuutalbum, Sonskyn In Die Aand, is pas vrygestel.

Boonop het ’n hele rits van die liedjies op dié album in ’n Afrikaanse dramareeks genaamd Geraamtes In Die Kas, verskyn. Dit het van Oktober 2013 tot einde Januarie vanjaar op SABC 2 gedraai.

“Ek dink die album was op die regte tyd opgeneem en voltooi. Toe die album skaars klaar opgeneem is, het een van my vriende vir my gesê dat Joel Azaisky op soek was na Afrikaanse musiek vir ’n reeks waaraan hy gewerk het. Joel is ’n legende in eie reg wat al bydraes tot films soos Pirates of the Caribbean, Ice Age en Spiderman 2 gelewer het. Ek het hom van ons album vertel en hy het dit weer vir Luke Rous deurgegee. Gevolglik is daar besluit dat ons musiek sou pas en dat ’n paar van ons liedjies vir die dramareeks gebruik sou word.”

Sonskyn In Die Aand bevat 13 snitte waarvan slegs een nié deur Daniel geskryf is nie – ’n nuwe, rustige en heeltemal verskillende weergawe van Gerhard Steyn se Baby Tjoklits verskyn ook op die album. Gerhard sing selfs ’n deel daarvan saam met Daniel. ( Gerhard en Daniel is broers)

Die kombinasie van Daniel Po se skryfstyl tesame met die produksie, verwerking en programmering wat deur Jan Blohm behartig is, het gesorg vir ’n eindproduk met baie gevoel en tekstuur.

“Die album is vir my ’n interessante mix-up siende dat my en Jan se agtergrond van musiek baie verskil. Dit was baie lekker om saam met Jan te werk.”

Appelblou is slaggereed vir 2014 en Daniel hoop dat Sonskyn In Die Aand alle verwagtinge sal oortref. Hy reken dat meestal jongmense tussen die ouderdom van 18 en 40 hoofsaaklik van die tipe musiek op die album sal hou. “Daar is wel rustige liedjies op die album waarvan ouer mense dalk ook sal hou maar ek dink hulle sal moontlik deur jonger mense daaraan blootgestel word.”

Hou hierdie groep dop in 2014. Wie weet, dalk is Appelblou se musiek een van die dae op die silwerdoek te vind.

4