Musiek 247 vol1 | Page 18

Veelsydigheid is eintlik sy tweede naam. En in werklikheid is daar agter die 7de Laan-karakter Diederik Greyling een van Suid-Afrika se toegewydste kunstenaars. Die akteur Hennie Jacobs is immers ‘n gedugte sanger, storieverteller en liedjieskrywer, wie se jongste vollengte-album, Dit is die land, behoorlik borrel van Afrikaanse folkrock met eg Afrikaanse stories en kraakvars liefdesballades.

“Ek was nog altyd baie lief vir musiek en het op skool ‘n band gehad: Die Bloedrivier Blues Band. In 2000 het ek my eerste optrede in Hatfield, Pretoria, gehad en sedertdien het ek nog nie opgehou sing nie,” vertel Jacobs wat al agt jaar gelede met die album Chilli Confessions gedebuteer het. “Chilli Confessions en 7de Laan het op dieselfde tyd gebeur en dit was vir my belangrik om die kans om my loopbaan as akteur op te bou, met albei hande aan te gryp. Dit voel nou is die regte tyd om my loopbaan as sanger verder uit te brei.”

Elf van die sewentien liedjies op Dit is die land is uit Jacobs se eie pen, hoewel sy lirieke eerder na kostelike, meesleurende stories neig as die meer eietydse, ligte liedjies. In ‘n vorige gedaante was Dit is die land bekend as Velcro Hart, maar is nou heruitgereik met vier splinternuwe liedjies, soos die titelsnit en Wolraad Woltemade waarmee die album open.

Met Wolraade Woltemade kombineer Jacobs met sy pittige lirieke die klassieke heldeverhaal se gegewe met ‘n liefdeslied. Dit is die land is ‘n kitaargedrewe ode aan Suid-Afrika wat iedere hart warm sal laat klop. Die ander nuwe snitte – Emmerlys en Smoorverlief – bewys ook hoe bedrewe Jacobs met sy poëtiese pen en romerige stem is.

HENNIE JACOBS – DIT IS DIE LAND

Selfs Jacobs se liefdesliedjies soos Soen is storiegedrewe, terwyl hy ligte stekies uitdeel met sy Ryk Man se Squatter Camp. Kaalgat in die kas is pure pret en laat ‘n mens tot en met die einde raai hoekom en hoe Piet-Jan van der Merwe sonder “sy kleertjies” in die hangkas beland het!

Op Kinderdae met sy bekfluitjie-klanke vol heimwee reis hy terug na die tye van Ouboet, McGyver en Brakanjan toe kinders nog in die laerskool “gekys” het. Hy gee ook die liedjie The Gambler nuwe lewe en bied met Nua vir sy dogter, Nua, ‘n klank-geskenk. “Ek wou vir haar iets gee wat sy vir altyd kan hê. En ek wou hê dat sy altyd moet weet hoe lief ons vir haar is.”

Hy het nou meer van ‘n definitiewe struktuur wat hy met die skryf van sy liedjies volg, vertel Jacobs. “Ek is trots op al die songs wat ek geskryf het. Dit is oor ‘n tydperk van omtrent tien jaar geskryf, maar met die vier nuwe liedjies het ek my eie manier van skryf gevind.”

18