Our town
14
Country is vir my die enigste musiek wat met jou siel praat,” sê die 30-jarige Jason. “Of jy nou gelukkig óf jy hartseer is, country-musiek práát met jou. Ek glo daar is nie ander musiek wat dit so goed doen soos country-musiek nie.”
Jason se nuwe album, Dirt Road, bestaan uit veertien snitte en die meeste daarvan is spesiaal vir die album geskryf.
“Ek was in 2010 in Nashville en het die Amerikaanse liedjieskrywers Gary Hannan en Jeremy Dean daar ontmoet,” vertel Jason. “Toe ons die nuwe album beplan het, het ek vir Gary gevra om vir my liedjies te skryf en vier van die liedjies op die album is uit sy pen. Die titelliedjie, Dirt Road, is ook deur Gary geskryf. Jeremy het sewe van die ander liedjies op die album geskryf.”
Daar was nooit by Jason Bradley enige twyfel dat hy country wil sing nie.
Buiten dat hierdie liedjieskrywer-meesters tot die album bygedra het, het Jason met hoogs gerespekteerde musikante soos Mauritz Lotz, Denny Lalouette en Bruce Wallace gewerk om die album lewe te gee soos net hul kan. Bruce is ook die vervaardiger van die album.
Jason glo vas dat country-musiek in Suid-Afrika nog lank nie dood is nie.
“Dit sal nooit weggaan nie,” sê hy. “Baie jonger mense het nog nie besef dat dit die musieksoort is waarvan hul hou nie. Dink maar aan kunstenaars soos Taylor Swift en Lady Antebellum – dis suiwer country. Daar is egter baie mense wat dink country is steeds wat dit dekades gelede was, maar daar het intussen soveel gebeur. Ek beskou dit amper as my plig om jonger mense bloot te stel aan moderne country-musiek.”
Sy grootste droom is dat die album nie net goed sal vaar in Suid-Afrika nie, maar dat dit ook sukses in die buiteland, en veral Amerika, sal behaal. Tot dusver lyk dit of Jason reeds op internasionale vlak begin golwe maak het siende dat hy in 2015 in Nieu-Seeland gaan optree.
“Ek is genooi na die Marton Country Festival wat op 16, 17 en 18 Januarie in Nieu-Seeland gaan plaasvind en is bevoorreg om die eerste Suid-Afrikaner te wees wat genooi is om die internasionale hoofkunstenaar by dié fees te wees. Boonop gaan ek ook in die daaropvolgende naweek by die fees van ligte in Plymouth (ook in Nieu-Seeland) optree. Hierdie feeste lok jaarliks meer as 100 000 mense! Ek het nooit gedink dat iemand my sou kontak om as hoofkunstenaar in ’n ander land op te tree nie – dit is waarlik ’n groot eer.”
Terug by die huis het Jason talle optredes wat in 2014 voorlê.
“Gedurende Paasnaweek, gaan ons ’n treintoer na Namibië toe hê en in verskeie dorpe optree. Ons beplan ook ’n toer na die Kaap aangesien ek nog nooit daar was nie en omdat baie van my Facebook-aanhangers daar woon. Boonop gaan ek ook saam met die sangers Wynand en Cheree Strydom toer. Ek sien uit na ’n goeie jaar en hoop van harte om mense daarvan te oortuig dat moderne Amerikaanse country-musiek ook ’n plek in Suid-Afrika het.”
Jason Bradley – Dirt Road