6
10 Jaar se Sielvolle Songs
BREYTEN SE BRIEF – JAN BLOHM
Tien jaar terug het Jan Blohm begin om sy eie weg te baan. Vir tien jaar het hy digkuns, sang en kitaarspel saam gevleg om musiekskeppings met amper tasbare teksture te skep; tasbaar vir dié wat werklik deur tydlose musiek aangeraak word. En tydloosheid is presies dít wat met Jan Blohm se nuutste album, Breyten se Brief, gevier word.
Breyten se Brief is 'n versameling van Jan se grootste treffers oor die afgelope dekade en bied met 19 sielvolle songs 'n verskeidenheid van musiekstyle wat strek van ballades tot ligte jazz en rock na blues. Die liedjies sluit in Breyten se Brief, Groen Trui, Maria Magdelena, Sondaglover, Mossie Bruin en ook 'n lewendige opname van Ons Huisie (vanaf Lotus: Live DVD wat in 2011 opgeneem is).
Dié rockdigter het die deur na 'n hele ander Afrikaanse musiekwêreld in die vroeë 2000's oopgemaak en sedertien letterlik duisende musiekliefhebbers gewen.
Oor die jare heen het hy vyf merkwaardige studio-albums opgelewer – Melkstraat Confessions, 'n Stille Runaway, Groen Trui en Ruby. Hy het met digters, liedjieskrywers en musikante soos Chritoph Kotze, Henre Masser en Jon Buckley saamgespan, wat ook hul bydraes gelewer het. En sedert 2005 tot 2011 het Jan 12 gesogte musiektoekennings ingepalm waaronder Geraas Musiek-, Huisgenoot Tempo-, Rapport Vonk Afrikaanse Musiek- en SAMA-toekennings.
Die toekennings en lof wat hy al vir sy werk ontvang het, sal hom egter nooit verhewe bo ander laat voel nie; sy voete bly op die grond. “Ek is nie 'n celebrity nie. Ek is niks meer as enige iemand anders daar buite nie. Daar is mense wat met hulle hande werk wat mooi goed uit hout maak, ander maak karre reg of verf huise. Dit sélf is 'n kuns. Ek kan dit nie doen nie. Dis hulle ambag. My ambag is om met woorde en musiek te werk. Ek is 'n skrynwerker met woorde en musiek. Dit maak my nie beter as ander mense nie. As mense van my werk hou, is ek bly en het ek succeed."
Vir diegene wat elkeen van Jan se liedjies van begin tot einde ken, is hierdie album 'n langverwagte klankgeskenk – 'n aandenking van 'n 10-jaar lange, onvergeetlike musiekreis.