OP 'N LEË PARON – DANIEL EEUWRICK
Hy is 'n argitek van beroep, maar musiek was nog altyd deel van sy lewe. In 1997 het hy egter sy kitaar weggepak en op sy loopbaan gefokus. Maar soos almal weet is musiek ‘n minnares wat nie sommer van haar laat vergeet nie.
“In 2010 het ek weer my kitaar opgetel,” sê die sanger en liedjieskrywer Daniel Eeuwrick. “Ek het voor dit nog altyd ander sangers se liedjies gesing, maar ek het toe besluit om self 'n liedjie te skryf en dit is waar Die Ballade van Wolraadt en Adamastor gebore is.”
Daniel, wat in 'n kusdorpie buite Port Elizabeth woon, het ook intussen vriende gemaak met die legedariese Amerikaanse sanger en liedjieskrywer Shaun Phillips wat ook aan die kus buite Port Elizabeth woon.
“Ek het toe ‘n paar van die liedjies wat ek geskryf het by hom opgeneem en het deur Anton Goosen by Peter Pearlson uitgekom wat toe die finale meng en meestering gedoen het,” sê Daniel. “In 2012 het ek met Vonk Musiek begin praat en in 2013 is Sigeunerskind opgeneem. Die twee CD’s, Sigeunerskind en Wolraadt, is as ‘n dubbel-CD vrygestel met die titel Op 'n Leë Paron.”
En ja, het weet “paron” is nie die korrekte spelling vir “perron” nie.
“Ek het dit gespel soos ek dit sê – ek sien dit nie as 'n spelfout nie, maar as iets wat meer van die liedjie vertel,” sê hy.
Wanneer hy musiek skryf, dink hy nie aan al die musiek wat hom deur die jare beïnvloed het nie. “My musieksmaak is baie wyd. Piet Botha het bekfluitjie op die van die snitte op Sigeunerskind gespeel, Anton L’Amour die kitaar en mandolien. As mens dus 'n invloed hoor, dan is dit dalk omdat dit in my onderbewussyn is. Dis beslis nie omdat ek dit so beplan het nie. Ek is ook baie aanpasbaar wanneer dit by die gevoel van 'n liedjie kom. Sommige liedjies vra byvoorbeeld vir 'n sagte akoestiese klank, ander vir 'n voller klank met meer instrumente.”
Sy hoop is dat mense die album sal ontdek en geniet. “Ek sal baie graag wil hê die album moet iets beteken en sal graag wil sien dat ‘n liefdadigheid, veral een wat diere ondersteun, voordeel hieruit trek,” sê hy.
Al die liedjies op Sigeunerskind is deur Daniel geskryf. Op Wolraadt is daar vier van die twaalf snitte wat deur ander liedjieskrywers geskryf is – twee van Anton Goosen, een van Anton de Waal en een deur Koos Ras. Peter Pearlson was op beide die albums betrokke met die produksie, verwerking, meng en meestering.
Kunstenaars in die Afrikaanse musiekbedryf is in April vanjaar by Carnival City se Big Top Arena met Ghoema-toekennings vereer. Op 'n Leë Paron was genomineer vir Beste Alternatiewe Album en het boonop hierdie gesogte toekenning gewen.
Facebook: Daniel Eeuwrick
18