Musiek 247 Vol 2 | Page 17

Arjana se gospel-debuutalbum, By U, is ‘n “God-geïnspireerde opdrag wat werklikheid geword het”. Die afgelope twee en ‘n half jaar het ‘n boodskap van Bo haar genoop om ‘n album vir Hom te skryf. Vir dié veelsydige verpleegster, voormalige weermagoffisier, afrigter van modelle en eienaar van ‘n model-akademie was dit die spontane uitvloeisel van ‘n talent wat sy al van kindsbeen af uitleef.

Die liefde vir musiek kom al van voor haar geboorte af. “My ma het die stem van ‘n engel gehad. Ek was dus maar altyd lief vir musiek. Alle genres – van hedendaagse musiek tot jazz, opera en klassiek. Later, as ‘n verpleegsustertjie in die hospitaal het ek – ‘n gebore drama queen – eerder pasiënte vermaak deur vir hulle te sêr, konserte te reël en Kerstyd met my kitaar en ‘n paar ander susters deur sale te loop en vir pasiënte te sing. Ek gaan die koor in die hemel afrig – check my.”

By U is saam met die produksieleier Deon van der Merwe (van Touch of Class-faam) in Pretoria opgeneem met Hanalie Burger wat die agtergrondstemme behartig. Van der Merwe speel ook al die kitare en die baskitaar. “Ek het deur die jare honderde halwe liedjies geskryf – soos die inspirasie maar kom. ‘n Baie goeie en uitstekende vriend het my gehelp om die liedjies sommer in ‘n rou formaat op te neem. Ons het dit toe na Deon gestuur vir die verwerkings en hy het die twaalf op die album gekies.

Arjana beskryf haar gospelliedjies as “ligte ballades met hier en daar energie”. Haar sielvolle lirieke vir meesleurende liedjies soos Gekruisigde hande, As U my weeg en die titelsnit word gekombineer met haar rustige sang. “Ek dink die Here gee vir my ballades om te skryf sodat ek rustiger kan wees. Ek is elke dag, 24/7, besig om adrenalien te pomp of om idees te kry vir my volgende rooimier-sessie. My musiek het te doen met alles wat Jesus is.”

Die album bevat ook twee Engelse snitte: die immer gewilde El Shaddai en dan Today, Tomorrow & Yesterday, waarmee By U afgesluit word. “My musiek moet binne elke individuele hart wees. Van die kleintjie op pa se skoot, die verlore seun, die skugter alleenloper, die verbitterde mens, die jubelende wese, die jongeling wat ‘n identiteitskrisis het – vir elkeen is daar ‘n boodskap.”

Arjana se By U is ‘n troos-album met salwende gospel-musiek wat die hartsnare roer. Sonder enige pretensie, is dit die soort musiek wat die luisteraar in lig en liefde tooi, van begin tot einde.

By U Arjana

17