Musiek 247 Vol 2 | Page 12

In My Oë - Glanz

Hy het liedjies soos Dimpels, Dink Aan My en Stukkie van jou Hart vir kunstenaars soos Gerhard Steyn, Andriëtte Norman en Arno Jordaan geskryf en gekomponeer. Sy het gehore landswyd in Barnyard-teaters betower.

Arri Opperman en Samantha Leonard is ongetwyfeld gedrewe oor hul afsonderlike musiekloopbane en in 'n gesamentlike projek staan dié duo nou bekend as Glanz.

Hul debuutalbum met die titelsnit, In My Oë, is pas vrygestel. Dis 'n projek waaraan hul 'n paar jaar gelede al begin werk het.

“Ons het lank reeds van mekaar geweet en in 2011 begin saam sing. Tydens my optrede by Innibos het Sam 'n duet saam met my gesing. Dit het 'n goeie reaksie by die gehoor ontlok en nadat hulle gevra het vir 'n duetalbum het ons aan idees begin werk. Met 'n duetalbum is daar meer vatplek en variasie,” vertel Arri.

In My Oë bestaan uit 14 oorspronklike snitte en is deur Arri en Samantha geskryf. Hulle het dit boonop reggekry om kleurvolle harmonieë en melodieë saam te bind wat 'n mens van die eerste tot die laaste lied in vervoering hou.

“Met die album wou ons 'n balans tussen kommersiële en gevoelvolle musiek vestig,” sê Arri.

Die paartjie is in werklikheid ook in 'n verhouding en meen dat dit as 'n bron van inspirasie vir die album gedien het.

“Ons het dieselfde loopbane, liefde en visies,” sê Arri en dan sluit Samantha by hom aan. “Dis waar. Die liedjies spruit uit ons verhouding uit. Verder vertel die liedjie In My Oë die hele storie van Glanz en dit bevat ook die naam in die lirieke,” sê sy.

Die liedjies op die album wat deel van Arri en Samantha se gunstelinge vorm is onder meer 'n Hartjie vir Jou, After All, I'm On My Way en Give Me Forever.

Glanz se debuutalbum is landswyd beskikbaar wees.

12