Meer
oor die
kunswerke
Daar word elke agt uur ’n renoster vir niks anders
as sy of haar horing doodgemaak nie. Sedert 2011
is daar meer as 7 000 renosters net in Suid-Afrika
gestroop.
Renosterbewaring lê die Pretoriase skilder en
beeldhouer, Jacques Müller, baie na aan die hart.
Hy het daarom besluit om renosters in sy kunswerke
te verewig. Die eerste ding wat hom opgeval het
toe hy deur die hekke van Care for Wild, die groot-
ste renosterweeshuis en -toevlugsoord ter wêreld,
gery het, was die silhouette van drie kolossale
grysbruinmassas, wat vir hom soos megaliete in
die veld gelyk het. Soos hy nader gekom het, het
hy besef dis drie volwasse renosters. Een van die
renosters was Wyntir, ’n renosterwesie wie se ore
deur hiënas afgebyt is toe sy nog ’n kalfie was.
“Die voertuig het gestop, ons het uitgeklim en met
’n telepatiese insig het Wyntir reguit na my toe
gestap, haar kop opgetel en in my arms neergelê.
Op daardie oomblik het ek tot die besef gekom
om hierdie skeppings vir solank ek lewe te verewig
in my werk en om só ’n bydra tot hulle oorlewing
en bewaring te maak. Die ervaring was magies en
ek het geweet hierdie is inderdaad megaliete van
die veld.”
Hy het renosters gemaak soos niemand nog ooit
renosters gemaak het of ooit weer sal maak nie.
Dit is 21 unieke werke, waarin hy die rou waarheid
van hierdie majestueuse skeppings se bestaan
uitbeeld. “Sonder romantiek en pretensie. Hierdie
megaliete van die veld het ek met ’n paletmes en
hompe gekleurde olieverf op doek vasgepleister.
Die simbiose tussen dier en natuur is duidelik sigbaar.
Elke lyn en krap is getuienis van die grashalms van
die veld.”
Die werke, wat olieverfskilderye en bronsbeelde
insluit, bied ’n hiperrealistiese geheelbeeld van
hierdie merkwaardige wesens.
“Uit ’n rivier van metaal en vuur is ’n reeks babas en
volwasse megaliete gebore. Gebroke in vlees en van
hulle ook in gees. Hulle is immers vermink en wees
gelaat, nadat dié wat lewe aan hulle gegee het, brutaal
voor hul aangesig tot ’n grusame en ondenkbare
einde gekom het. Hierdie werk is hulle waarheid.
Elke naam hier bestaan. Elke naam hier het oorleef,
behalwe die moeders en klein Thor. Hy was gered,
maar het later aan ’n swak spysverteringstelsel en
’n verwonde siel die lewe gegroet. Ter nagedagtenis
aan hom het ek ’n swartrenoster getiteld ‘Mighty
Thor’ gemaak.”
Al hierdie werk is onkonvensioneel en kontroversieel.
Dit is rou en sny tot op die been.
Hierdie is die verhaal van die werklikheid wat hom
daagliks afspeel in die bestaan van hierdie skepsels,
en die mense wat hul lewens daartoe wy om hierdie
oorlog namens hulle te baklei.
Net ons kan hulle help en hul bestaan en oorlewing
verseker.
Alle opbrengste uit die verkoop van hierdie
kunswerke is ten bate van die niewinsgewende
organisasie Care for Wild.
BLADSY 5 |