AP VAN ZYL - KLEIN SANDDRIFT
LANDBOU
AP VAN ZYL - KLEIN SANDDRIFT
Soos soveel ander landbouers in die Bredasdorp-omgewing is AP van Zyl en sy familie al geslagte lank op die plaas Klein Sanddrift – in hul geval die vyfde geslag . Sy pa se oupagrootjie het reeds in 1898 hier geland en hy het met skape en beeste geboer . Nou is AP en sy vrou , Jodene , seun Johan ( 12 ) en dogters Jana ( 15 ) en Nina ( 17 ) hier om die Van Zyl-vlag hoog te hou . Pa Jannie en ma Helena is ook nog fiks en aan die gang en bly in die oorspronklike plaashuis ‘ n entjie weg . Die huis spog met die jaartal 1804 op sy gewel .
Op die grasperk voor die huis vertel oom Jannie dat hierdie plaas eintlik die middelpunt van die Bredasdorp-distrik was .
“ Die sterkste kloofwater in die omgewing is hier op die plaas en die mense het hier kom bly . My ma is deur Herklaas Wessels vertel dat die Van Breda ’ s en Van der Bijls almal hier kom bly het , maar die een span het Bredasdorp gestig en die ander Napier , skaars 16 minute se ry uit mekaar . In die dae toe die twee dorpe nog rugby teen mekaar gespeel het , was dit dikwels nie rugby nie , maar ‘ n bloedbad ,” vertel hy .
Agrimark Bredasdorp se bemarker , Gawie Erasmus ( links ), saam met AP tussen die mielies wat deur ‘ n spilpunt op Klein Sanddrift besproei word .
15 MARKtoe ! September 2023