“ Kyk, in die Namakwaland kan swaarkry uitslaan soos vark- masels en vir jou druk totdat jy pensmis proe.” Watter ander geweste se mense kan só’ n sêding te berde bring? En dan is dit nog die waarheid ook. Wel, amper. Já, die Namakwaland is groen ná die reën, dit is nou indien die reën wel geval het. En natuurlik is dit kleurvol gedurende die blommetyd, alhoewel net vir ses tot agt weke. Die res van die jaar, veral gedurende die gereelde droogtes, is dit vaal. En daarom het Namakwalanders geleer om hul wêreld in te kleur met stories en sêgoed. Soos: In die Namakwaland kry jy nie ryk boere nie. Jy kry wel baie sterk boere,