MARKtoe! JULY 2017 | Page 16

LANDBOU Groenkol Boerdery 2. - Willem Engelbrecht Buiten aartappels is die Graafwater-omgewing ook die tuiste van verskeie rooibosprodusente, en dit is by die Groenkol Boerdery waar ons volgende ‘n draai maak. Hier word sowat 250 ton rooibos per jaar geoes in ‘n agtjaar-wisselboustelsel. Willem Engelbrecht verduidelik hoe die wisselboustelsel werk. Die eerste jaar word die rooibos geplant en in jaar twee word dit op kniehoogte afgesny. In jaar drie tot vyf word die teeplante geoes. Om die grond in staat te stel om te herstel, word daar in jaar ses lupiene op die land geplant, terwyl hawer in jaar sewe en agt geplant word om die grond daadwerklik te ‘steriliseer’. In jaar nege word rooibos weer op die land gevestig. Die eerste jaar word die rooibos geplant en in jaar twee word dit op kniehoogte afgesny. In jaar drie tot vyf word die teeplante geoes. Om onder meer voordeel te trek uit die weidingsgewasse wat geplant word, word ‘n voerkraal op Groenkol bedryf. Willem verduide- lik dat hy ‘n intensiewe lamstelsel bedryf met sy 900 kommersiële Vleismerino-ooie. “Daar is ses ooi-troppe van 150 elk, wat elke nege maande lam. So elke ses weke lam ‘n trop. Vir ses maande van die jaar gebruik ons Vleismerino-ramme, waaruit ons vervangsingsooie en teelmateriaal terughou, en vir die ander ses maande van die jaar doen ons terminale kruisings met Dormer-ramme.” Groenkol bedryf ook ‘n Vleismerino- en dormer-stoet, sowel as ‘n Simbra-beesstoet van sowat 50 koeie. Om toenemende probleme met rooijakkalse, luiperds en rooikatte die hoof te bied, lam die ooie onder spilpunte wat afgekamp is en word ‘n lamhokstelsel gebruik waar die ooie en pasgebore lammers vir die eerste een tot twee weke aangehou word. Maar die kern van die besigheid is nog altyd rooibos. Willem glo dat jy, om volhoubaar met rooibos te boer, soveel as moontlik van die waardeketting moet beheer. Derhalwe prosesseer, verpak en bemark Groenkol al sy eie rooibos deur ‘n verskeidenheid aparte bedryfseen- hede. Een hiervan is Elandsberg Tea Processors (ETP) wat nie net Groenkol se tee verwerk en verpak nie, maar ook op kontrak die tee van verskeie ander produsente verwerk en verpak. 1. 3. Anders as ander verwerkings- en verpakkingsaanlegte koop ETP nie tee van elders in nie. Hulle vra ‘n fooi vir die verwerking en verpak- king van ander produsente se tee. “Dit gee die produsent die geleent- heid om self die waarde van sy produk te ontsluit,” sê Willem van hulle bedryfsmodel, wat hy glo meer volhoubaar is na beide kante toe. Willem glo dat jy, om volhoubaar met rooibos te boer, soveel as moontlik van die waardeketting moet beheer. 1. Die kentekens van die verwoesting wat die droogte onder rooibos gesaai het. 2. Willem Engelbrecht moet sy sit ken om met ‘n motorfiets die sandlande aan te durf. 3. Teelande word met kwekelinge uit dié kwekery geplant. 16 MARKtoe! Julie 2017 “Ons is gesteld op kwaliteit,” sê Willem, wat noem dat rooibos in die verlede as ‘n kommoditeit beskou is, maar die afgelope vyf of ses jaar het die prentjie begin verander en is kopers bereid om ‘n premie vir hoër gehalte tee te betaal. “Ons fokus op daardie hoër prysklas.” Om die tee tot by ‘n verbruikersgeskikte produk te kry, is nogal ‘n verwikkelde proses. By ETP word ses ton rooibos per dag verwerk. Dit verteenwoordig sowat 2,4 miljoen koppies tee! Vir die fermentasie- en droogproses word daar gebruik gemaak van ‘n reuse driekwarthektaar-sementblad. En wanneer die tee klaar gesif is om ontslae te raak van growwe stokkies en teestof, moet dit eers gepasteuriseer word. Dit kan egter nie nat raak nie, en daarom is die stoom wat daarvoor gebruik word ‘n droë stoom wat onder druk geproduseer word en tussen 126 en 144 grade Celsius bereik.