As verteenwoordiger van ongeveer 3 500 produsente in die Wes-Kaap , het Agri Wes- Kaap ( AWK ) die reusetaak om te verseker dat die belange van sy lede beskerm en uitgebou word . En die man wat die verantwoordelikheid het om hierdie omvangryke mandaat uit te voer , is Jannie Strydom , uitvoerende hoof van AWK .
Hierdie boorling van die Natalse Suidkus is ‘ n deurwinterde landbou-ekonoom wat ten nouste by hierdie faset van die landboubedryf in Suid-Afrika betrokke was voordat hy in 2019 die leisels by AWK oorgeneem het .
“ Ek het darem op ‘ n plaas grootgeword , en alhoewel ek nooit self geboer het nie , het my betrokkenheid as landbou-ekonoom my die geleentheid gebied om die besigheidskant van hierdie bedryf deeglik te leer ken en kan ek daardie kennis tot voordeel van ons landbougemeenskap aanwend .
“ Dit help my om een van die grootste uitdagings wat landbouprodusente vandag in die gesig staar , die algehele kosteknyptang , beter te kan verstaan en om te besef watter impak besluite oor die bedryf op produsente kan hê , ” vertel hy in sy kantoor in die hartjie van die Paarl . Jannie verduidelik dat AWK ‘ n apolitiese , vrywillige lede-organisasie is wat die mandaat van sy lede gekry het om te fokus op enige wetgewing wat die landbousektor raak , insette op die onderskeie regeringsvlakke te maak en beleid oor die landbou tot voordeel van sy lede te beïnvloed . Alle aspekte wat volhoubaarheid van produsente beïnvloed , val onder hul sambreel .
“ Ek sê altyd ons sien om na dinge wat buite die plaashek gebeur en help om daardie geraas aan te spreek terwyl die produsente met gerustheid kan voortgaan om hul kernbesigheid te bedryf – om voedselprodukte te produseer .”