MARKtoe! April 2026 - Uitgawe 136 | Page 36

LANDBOU
LANDBOU

Hy sê die oesvenster het oor die jare baie korter geword.

“ Voorheen het ons van week 2 tot week 18 gepak. Nou pak ons al van week 51 tot week 10, so ons het net 10 tot 12 weke om die oes weg te pak. Pakstore kry swaar en moet groter word, want die totale opbrengs in die vallei het danksy nuwe kultivars gegroei. Die kultivars se tydgleuwe lê ook al hoe nader aan mekaar. Jy kan nie druiwe te lank laat hang om die seisoen uit te rek nie, want dan verswak die gehalte.”

Voorbereiding vir die volgende seisoen

Op Kanetvlei is die oes byna afgehandel en word die plastiek nou van die wingerde afgehaal. Daarna begin die lang voorbereiding vir die volgende seisoen. Hulle gebruik nie dekgewasse op die klipgronde nie, maar wel verskeie hulpmiddels vir plantgesondheid, binne streng internasionale maatstawwe vir spuitstowwe. Snoei duur van Junie tot einde Augustus, waarna die plante begin uitloop. Groendruiwemanipulasie begin in Oktober en duur tot einde Desember.

“ Daar is te veel tafeldruiwe op die mark en wêreldverbruikers soek goeie vrugte van gehalte.”

“ Een ding is seker: ons sal ons boerdery by die klimaatstoestande moet aanpas. Dinge soos nette, sakkies en kappies moet oorweeg word, maar vir nou werk plastiek goed vir Kanetvlei. Beskermingsprodukte verbeter heeltyd, en die produsent wat vandag nie besef dat hy sy oes op een of ander manier moet beskerm nie, gaan probleme hê. Daar is te veel tafeldruiwe op die mark en wêreldverbruikers soek goeie vrugte van gehalte. As dit nie jou uitgangspunt is nie, het jy as produsent’ n groot probleem,” sluit Robert af.

36 MARKtoe! April 2026