kykNET Uitgawe 3 - 2016 | Page 46

BOEKE

Uit die pen van die vrou

Vier nuwe boeke deur vier formidabele Suid-Afrikaanse vroue – Stephanie Nieuwoudt sê dié vrouemaand is ’ n storiemaand soos min .
Moordvis deur Irna van Zyl Penguin Moordvis is die debuutriller deur die mediasakevrou Irna van Zyl . Die hoofkarakter is speur-adjudant Storm van der Merwe , wat op die dorpie Grootbaai , naby die prentjiemooi Hermanus , die saak moet oplos van ’ n lyk wat uitspoel minus ’ n arm ...
Daar is baie vrae : Grootbaai is immers die haaiduikhoofstad van die wêreld . Maar Grootbaai ( dalk ’ n verwysing na die werklike Gansbaai ?) is ook bekend vir perlemoenstropery , een van die grootste kopsere waarmee die misdaadowerhede daagliks te doen kry .
Storm van der Merwe mag dalk kort van postuur wees , maar sy is ook ’ n dinamiese en dapper vrou wat haar nie maklik laat afskrik of intimideer nie . Dit is inderdaad tyd vir nog ’ n speurheldin in die Afrikaanse fiksiewêreld .
Maestro deur Marié Heese Human & Rousseau Maestro is ’ n fiktiewe weergawe van die lewe van die Italiaanse beeldhouer en argitek Gianlorenzo Bernini ( 1598-1680 ). As argitek is hy bekend as die vader van die Barok-kunsstylperiode .
Sy pa en leiersfigure in die Vatikaanstad besef reeds toe Bernini net 10 jaar oud is hy is ’ n besonders begaafde kind . Heese neem die skrywer op reis deur Bernini se grootwordjare , sy huwelik as 41-jarige en die ywer waarmee hy gewerk het namate sy stem as beeldhouer ál sterker word .
Ook die Rooms-Katolieke Kerk word in hierdie boek bekyk : Aan die een kant is daar grootskaalse korrupsie , maar terselfdertyd ondersteun die Kerk menige kunstenaar .
Dis die soort boek dié wat wyd aanklank sal vind – onder historici en ander wat belang stel in die ontwikkeling van die kunste en kunstenaars oor die eeue .
46
Tuisland deur Karin Brynard Penguin Lesers het reeds in Karin Brynard se vorige boeke , Plaasmoord en Onse Vaders , kennis gemaak met kaptein Albertus Beeslaar . In dié boek is hy op die punt om af te tree , maar daar is nog een laaste sending wat aandag moet kry – wanneer ’ n San-leier in die Kgalagadi-oorgrenspark sterf en ’ n Duitse toeris wreed aangeval word .
Nuwe energie word losgelaat wanneer Beeslaar se nuwe kollega , die hardekwas Koekoes Mentoor , haar by hom aansluit . En waarom moet die skoonmaker Katie Rooi die woestyn in vlug met ’ n straatkind ?
Hierdie is ’ n spanningsvolle verhaal waarin die politiek , mites en geloof saamgeklits word .
Drieklawerblaar deur Christine Barkhuizen-le Roux ( Human & Rousseau ) Barkhuizen-le Roux is ’ n onverskrokke skrywer wat in haar vorige roman , Getuie , geskryf het oor die vergrype van die Jehova-getuies . In haar jongste roman worstel drie hoofkarakters met gevoelens van skuld en ’ n behoefte om die verlede te verken .
Daar is Kate Jooste , ’ n afgetrede verpleegster wat met ’ n groot skuldlas saamleef ; die wildboer Abel Marais , wat probeer antwoorde vind op vrae wat hom pla oor sy familie ; en Tinneke le Grange , wat probeer vrede maak met haar man se dood .
Om klarigheid te kry gaan soek Abel op die Franse platteland waar sy oupa eens geboer het , terwyl Kate onder meer ook by Abel op sy dorre Karooplaas gaan antwoorde soek .
Met dié boek is dit duidelik die Afrikaner se band met grond en die plaas is nog sterk . Ons skrywers het nog baie te sê oor hierdie onderwerp . kykNET | UITGAWE 3 | 2016