kykNET Uitgawe 3 - 2016 | Page 37

Die eerste episode van La ’ t Wiel is op 5 Mei 2004 op kykNET uitgesaai met Hannes Visser en Francois Rautenbach as die eerste aanbieders . Waldo van der Waal het hom kort daarna by die span aangesluit as medevervaardiger , skrywer en aanbieder , en sedertdien was daar ’ n rits mede-aanbieders : Henré Pretorius , Theunis Nel , Nico Panagio en later ook André Weideman , wat steeds insetsels uit die Kaap aanbied .

“ Ek en Waldo is die kar-ouens en doen ook elke jaar diens as jurielede vir die Suid-Afrikaanse Gilde van Motorjoernaliste se Motor van die Jaar-kompetisie ,” sê Hannes . “ Tussen die twee van ons het ons omtrent elke La ’ t Wiel-episode se draaiboek geskryf en ook die meeste van die insetsels aangebied .”
Altesame 357 episodes van die program is al uitgesaai , en die nuwe reeks skop af met episode nr . 358 .
“ Oor die jare het ons minstens ’ n duisend verskillende motors bestuur , op amper elke vasteland , en ek sidder om te dink hoeveel brandstof ons in hierdie tyd verbrand het . Dit moet honderdduisende liter wees ” sê Hannes .
Hy sê die span hou nie daarvan om in Gauteng opnames te maak nie , veral as dit winter is .
“ Die paaie rondom en naby Gauteng is eenvoudig nie mooi genoeg na ons smaak nie ,” sê hy . “ Boonop is die agtergrond vaal en lelik . Ons probeer dus Gauteng so ver moontlik vermy , hoewel dit nie altyd moontlik is nie . Ons gunste lingplekke om te verfilm is die Laeveld in Mpumalanga , die Tuinroete , enige plek in die Kaap , en natuurlik buurlande soos Mosambiek en Namibië . Vir die nuwe reeks het ons inderdaad van dié plekke besoek – hier en daar sien jy ’ n paar stukke van Gauteng se grasveld in die agtergrond , maar daar is ook ’ n paar duine , berge en strande wat die agtergrond mooier maak om na te kyk .”
Oorkant , kloksgewys van regs bo Hannes Visser , een van die ankeraanbieders van La ’ t Wiel ; Die program het iets vir almal – hier is ’ n BMW met , wel , ’ n bietjie woema ; André Weideman woel in die Kaap ; Die bande sing op die teerpad ; Hannes raak driftig agter die stuur ; Hoe rooier , hoe mooier ; Waldo van der Waal stap ook al ’ n lang pad met La ’ t Wiel ; Hannes bekyk die nuwe Opel Astra .
Op die ou end gaan La ’ t Wiel oor die motors wat hulle bestuur , sê Hannes . “ Omdat mense – die kykers en motoreienaars – so uiteenlopend is , probeer ons ’ n groot verskeidenheid motors dek om soveel as moontlik mense gelukkig te hou . Ons het al gesien wanneer ons ’ n Porsche en Lamborghini in een episode wys , is die mense vinnig om ons daarvan te beskuldig dat ons nie na hulle belange omsien nie omdat peperduur motors nie verteenwoordigend is nie en uiteraard vir die meeste mense te duur is .
“ Maar wanneer ons ’ n week later ’ n storie doen oor gewone rygoed – soos ’ n Volkswagen Polo of Kia Picanto – dan vertel dieselfde kykers hulle het nie nodig om sulke karretjies op televisie te sien nie omdat hulle sulkes in die motorhuis het . Ons weet ons sal nooit almal gelukkig kan hou nie .”
In die nuwe reeks kyk die span na ry - goed wat nog nie voorheen op La ’ t Wiel gewys is nie .
“ Daar is ’ n paar blitsvinnige Jaguars en ewe vinnige Mercedesse asook die kar wat die Land Rover Freelander moes vervang . Ons reis deur die land om ’ n paar bekendstellings by te woon , soos BMW se parmantige M2 en die Europese Motor van die Jaar , die nuwe Opel Astra . Ons kyk ook na die nuutste Audi A4 , die Opel Adam S en die wêreld se kragtigste voorwielaangedrewe motor , die Honda Civic Type R . Alfa se pragtige 4C kry ook ’ n beurt – ons kon nie anders nie as om met hom om ’ n renbaan te jaag .”
Die nuwe reeks vertel ook meer van die oorlog wat tans tussen bakkievervaardigers woed .
“ Dit is ’ n belangrike onderwerp in Suid-Afrika , want bakkies is van die beste verkopers – van alle rygoed – en daar is baie om van te kies : van ou staatmakers soos die Isuzu KB en Mitsubishi Triton , tot Volkswagen se Amarok , wat al hoe beter begin doen . En dan is daar natuurlik ook die groot stryd tussen Ford se Ranger en die Toyota Hilux .”
Met die ekonomie wat deesdae erg knyp en motorpryse wat deur die dak skiet , gaan die La ’ t Wiel-span ook kyk na hoe jy die beste waarde vir jou geld kan kry – veral as jy tussen ’ n string tweedehandse motors begin rondsnuffel .
Kykers kan hulle vasgordel vir ’ n heerlik opwindende rit in La ’ t Wiel .

Van wiel

TOT KAR

Navorsing toon die wiel is om en by 3 500 v . C . ontwikkel , maar dit het niks met vervoer te doen gehad nie – dit was vir pottebakkers in Mesopotamië ! Teen daardie tyd was daar reeds verskeie uitvindings wat ons vandag nog gebruik – dinge soos die naald , geweefde materiaal , tou , bote en selfs die fluit .
Eers 300 jaar ná die pottebakkerswiel het mense besef die wiel kan vir waens ook gebruik word .
Die kruiwa het die eerste keer tussen die sesde en vierde eeu voor Christus in antieke Griekeland ontwikkel .
In werklikheid is dit nie net een persoon wat krediet kan kry vir die uitvinding van die motorkar nie . Verskillende uitvinders het oor die eeue ’ n droom of idee ( of ses ) gehad , en al dié idees saam het op die ou end gesorg vir die motor wat ons vandag ken . Die binnebrandenjin wat in die negentiende eeu ontwikkel is , het dinge bespoedig , en in 1807 het die Switserse uitvinder Francois Isaac de Rivaz verskeie gasaangedrewe motors gebou .
Amper ’ n eeu later , in 1908 , het die Amerikaner Henry Ford sy Model T begin vervaardig , ’ n kar waarvan uiteindelik is meer as 15 miljoen gebou is .
Die duurste kar op die oomblik is die Koenigsegg CCXR Trevita wat jou ’ n koel $ 4,8 miljoen – dit is rondom R80 miljoen ! – uit die sak sal jaag . Tweede op die lys is Lamborghini se Veneno teen $ 4,5 miljoen en derde die Lykan Hypersport teen $ 3,2 miljoen .
Bronne : smithsonianmag . com ; Die Storie van Uitvindings ( Protea ); digitaltrends . com
La ’ t Wiel Dinsdae om 17:30 op kykNET , kanaal 144 Herhalings Woensdae om 15:00 , Vrydae om 17:30 en 22:30 , Saterdae om 14:00 , Sondae om 07:00 en Maandae om 10:00
37
2016 | UITGAWE 3 | kykNET