kykNET Uitgawe 3 - 2015 | Page 27

Deon Lotz Aardklop 2015. Dis die dag voor die fees op Potchefstroom begin en daar’s ’n geskarrel om alles reg te kry. In die Ouditorium is die span spelers van Moeder Moed en Haar Kinders besig om te repeteer. Die produksie sou later as die beste by Aardklop aangewys word, en Jerry Mofokeng as beste regisseur. Deon Lotz speel die kok in die stuk, ’n rol waarvoor hy vroeër vanjaar ’n Kanna-toekenning as beste akteur gewen het. Niemand sal stry nie, Lotz se loopbaan is aan die brand. Sewe rolprente net in 2015. Die rol van Don Mostert in Buurtwag. ’n Britse én ’n Duitse TV-reeks. Radiowerk. En dan natuurlik Moeder Moed en Haar Kinders, asook Die Seemeeu, die twee grootste toneelstukke van die afgelope tyd, waar hy die verhoog met mense soos Marius Weyers, Sandra Prinsloo, Aletta Bezuidenhout en talentvolle jonger spelers soos Albert Pretorius, Cintaine Schutte en Rolanda Marais deel. Die 51-jarige Lotz het eers later in sy lewe sy deurbraak as akteur gemaak, vertel hy in die eetplek langs die Ouditorium. “Ek het ná my weermagdae drama by Babs Laker by ADK (Akademie vir Dramakuns) studeer, maar daarna het ek eers 13 jaar in die hotelbedryf gewerk, onder meer as bestuurder van die Cellars-Hohenort, ’n vyfster-hotel in Constantia, Kaapstad. “In 2001 het ek besluit ek wil voltyds akteur word. Ek het baie radiowerk gedoen en advertensies vir die internasionale mark gemaak, maar die groot keerpunt was in 2010, toe ek die rol van Francois in Oliver Hermanus se rolprent Skoonheid gekry het. Dit het my hier en internasionaal baie blootstelling gegee.” Vleis Beeslaar, sy karakter in ’n Pawpaw vir My Darling (dit word op 12 Januarie uitgereik), het hy met ’n sekere ingesteldheid gespeel. “Ek onderskat of veroordeel nooit ’n karakter nie,” sê hy. “’n Man soos Vleis wil net die bes H