Vat Jou Goed en Trek!
Waar het die idee vir die program vandaan gekom?
Ek het besef daar is ’n gaping vir ’n TV-reeks
oor die eiendomsmark en dit was nog altyd
my doel om vir myself en ander werk in die
vermaakwêreld te skep. Hier was dus ’n
perfekte geleentheid om al twee te doen.
Ek het gepraat met Kobie Potgieter, eienaar
van RE/MAX Independent Properties, en sy
het dadelik ingestem om deel te wees van
so ’n program, wat vir mense wys hoe om hul
huis reg te ruk voor hulle dit op die mark sit.
Vertel ons meer van jou mede-aanbieders.
Lara Fourie is ’n binneversierder en het elkeen
van die dertien eiendomme in die reeks versier
soos net sy kan. Sy was ’n groot aanwins
en hoewel ons koppe gestamp het, het dit
bygedra tot die sukses van elke episode.
Adrian Bosman van Mr Maintenance en sy
span behartig al die opknappingswerk. Hulle
het dertien eiendomme in slegs vyf weke
getakel! Ek het met elke episode gewonder of
hulle die sperdatum gaan bereik, maar keer op
keer was ek verbaas oor wat hulle vermag het.
Wat dink jy is die grootste fout wat mense maak
wanneer hulle hul huis wil verkoop?
Die beste raad wat ek vir mense het, is om
klein kosmetiese veranderinge aan te bring.
Deur ’n minimale bedrag uit te gee kan jy die
waarde van jou eiendom heelwat verhoog.
Mense kyk na twee vertrekke wanneer hulle
die potensiaal van ’n plek bepaal: kombuise
en badkamers. Deur byvoorbeeld slegs die
tafelblad te vervang en die handvatsels te
moderniseer, sal jy die kombuis nuwe lewe
gee. Verf kan ook ’n groot verskil maak. Kies
neutrale kleure en bly weg van aksentmure.
Mense soek ’n neutrale palet en wil nie deur
sterk kleure gebind word nie.
Wat was die grootste uitdaging met die maak van
die reeks?
Tyd. Ons het slegs 72 uur gehad om elke eien
dom klaar te kry. Die onvoorsiene jakkalsies
het ons deurentyd op ons tone gehou. Ek
moes ook leer om die rol van vervaardiger en
van aanbieder te speel. Die twee is baie uit
eenlopend. As aanbieder moet jy kreatief wees
en die rol van vervaardiger verg meer logika.
Is hierdie program net vir mense wat graag hul huis
wil verkoop?
Lara, Henck en Adrian
Nee, dis meer as net ’n voorligtingsprogram
oor die eiendomsmark. Kykers sal die doendit-self-insetsels geniet, asook die nuttige
wenke wat hulle in hul eie huis kan toepas.
2015 | UITGAWE 3 | kykNET 25