kykNET Uitgawe 2 - 2016 | Page 16

Hier’s Emo, tien jaar later As kind het hy in musiekblyspele van David Kramer en Taliep Petersen gespeel, maar toe gaan hy terug skool toe en roep die teater vaarwel. Min het Emo Adams geweet die lewe het ander planne met hom. T 16 ien jaar gelede word Huisgenoot 90 jaar oud en hulle be­sluit om ’n konsert te hou ter viering van die mylpaal. Die vervaar­ digers van die konsert is Hennie van Greunen en Pedro Kruger, en hulle kry ’n paar gevestigde name, maar ook twee onbekende sangers. Een van hulle is Emo Adams. “Dit was my eerste blootstelling aan feeste,” onthou Emo. “Ek onthou hoe ons in die bus gery het van fees tot fees. Ek het nie eens Afrikaanse liedjies geken nie. Dit was crazy. Maar daarna het Huisgenoot my gevra om vir Taliep in te staan by hulle Kaapse Jol-konsert. Ek het sy liedjies gesing, maar ook “Gums Kawielie Wams”, ’n tradisionele Maleierliedjie. Daarna het ek ’n Tempotoekenning gewen vir die beste kopskuif-album en is gevra om by Skouspel op te tree. Dís toe mense my begin raaksien het.” Dit was so hittete of Emo het nie ’n vermaakkunstenaar ge­word nie. “Ek was nege jaar oud toe ek in District Six: The Musical gespeel het. Daarna is ek terug skool toe, maar het later as ’n stage hand by die Baxter gewerk. David en Taliep het Kat and the Kings gedoen en een van die spelers het nie opgedaag vir die repetisies nie. David het gevra of ek sal instaan, en omdat ek die woorde en moves so goed geken het, het ek gedink: Hoekom nie? ’n Week later toer ons na Johannesburg, en vir die volgende tien jaar is dit deel van my lewe. Londen, Rotterdam, Las Vegas, Kaapstad …” kykNET | UITGAWE 2 | 2016 David en Taliep het ’n groot invloed op sy lewe gehad, maar as hy een mens moet uitsonder wat die grootste invloed gehad het, is dit sy pa, Omar. “Hy kyk na dinge met ’n ander oog,” sê Emo. “Ek het my tanne saam met hom gesny. Toe ek op my eie wou gaan, het hy gesê hy dink nie ek gaan dit maak nie. Ek was vasbeslote om hom verkeerd te bewys. Baie jare later het hy erken hy het dit aspris gesê omdat hy geweet het ek sou wou wys ek kán dit maak.” Jou Show, wat op 4 April vir ’n tiende reeks teruggekeer het, is een van die hoogtepunte van sy loopbaan. “My gunsteling-gas? Dit mag dalk ’n cliché wees, maar dis Riaan Cruywagen. Hy is opreg en die coolste ou. Ek weet nie of mense weet hoe snaaks hy is nie. Hy is flippen, flippen snaaks. En hy is dieselfde ou voor en agter die kameras. Dis vir my so ’n eer om mense te ontmoet wat ek op TV gesien het toe ek ’n laaitie was.” Wie sal hy graag nog op die program wil kry? “David Kramer, Nataniël, Casper de Vries, Gareth Cliff, Randall Abrahams, Anton Goosen, Laurika Rauch, Mmusi Maimane en Julius Malema.” Hy dink kunstenaars kan bydra tot verdraagsaamheid in die land. “Ons het ’n stem. My boodskap is positief. Dis nie ’n maklike bedryf nie en jy moet soms hare op jou tande hê, maar ek is ’n laaitie van Mitchells Plain wat dit gemaak het en ander moet weet hulle kan ook. Ons kort lag en liefde. Dít is wat ek glo.”