karoo tUISONDERRIG-HOKKIESPAN PRESTEER!
MIDDELBURG - Vrydag, 16 Junie, en Saterdag, 17 Junie, was daar n O. 13-hokkietoenooi op Kovsies se Astro-velde te Bloemfontein gehou.
Agt seunspanne en agt dogterspanne het aan die toernooi deelgeneem. Al die hokkiespanne was van Bloemfontein, behalwe die Karoo Tuisonderrigspan. Alhoewel hulle spannetjie ook O.10 en O.11 spelers ingehad het, het hierdie entoesiastiese nuwe hokkiespan van Middelburg en omgewing en hul afrigter, Ina Botha, nie teruggestaan vir die stadsjapies nie!
Die Karoo Tuisonderrigspan het die finaal met een doel gemis. Daar was drie spanne wat op 14 punte geeindig het en die volgende hoeveelheid doele wat aangeteken is, het hulle finaal gemis. Hulle het die Strikers- wat onoorwonne was in die toenooi- Saterdagoggend met hul laaste uitspeel wedstryd 1-0 gewen. Hulle het agt wedstryde in twee dae gespeel wat elk 25 minute geduur het.
Die doele tydens die toernooi is deur die volgende spelers aangeteken: Darren Collett, Tessie James, Tammy James en Luke Visser. Die Karoo Tuisonderrigspan het weggestap met die brons medalje nadat hulle die Royal Flames met 2-1 oorwin het. Die ouers en hul afrigter, Ina Botha, is werklik baie trots op hierdie span. Botha het die spelers binne slegs een jaar al soveel geleer dat hulle reeds teen ervare Bloemfontein uitstekend kon vaar. Hou hierdie hokkiespan dop... Hulle gaan nog groot mylpale behaal.