Vandag was 'n anderste dag. Vanoggend het almal vroeg opgestaan, piekniek mandjie gepak, en in die kar geklim. Ons gaan plaas kyk! Al die pad van Oos Londen na Molteno het ek gedink aan hierdie plaas. Sal ons daar kan bly? Hoe lyk dit daar? Het dit ‘n huis? Landjies? Dalk ‘n kraal? Ons ry deur Cathcart, Queenstown, Sterkstroom en dan ook deur Molteno. Wat ‘n vervalle ou dorpie! Die plastiek sakke dwarrel in die wind. Nee genugtig! Hier is nie eers ‘n Spar nie! Daar is wel ‘n paar mooi geboue en ‘n biblioteek! Ons ry deur Molteno, draai af op ‘n grondpad met ‘n bordjie wat se Sandfontein. Ons ry al stampend verby plase, netjies en in orde. Ons lees die plase se name hardop: Charnwood, Retreat, Sandfontein. En dan stop ons. Bo op ‘n bult. As jy af kyk, sien jy landjies aan weerskante van die rooibruin grondpad, dan die werf. ‘n Groot bloekom boom staan hoog en trots voor die huis. Twee massiewe sipresse troon ook daar. En dan die huis. Van hier aflyk dit al klaar oud, vervalle en spookagtig. Daar is ‘n paar sinkplate weg, die res is geroes. Waar die voordeur moes gewees het is daar net ‘n gat. Mamma neem ‘n foto. In ons harte weet ons dat ons hier gaan bly! Ons klouter terug in die kar en ry verder. Verby die landjies waar die onkruid bruin en droog staan. Die swaeltjies en mossies vlieg in swerms op, gaan sit dan op die telefoon draad. By die huis ry ons by die hek in. Toe ons uit kilim is daar net kakiebos. Oral. Ons stap deur die droe kakiebos. Op ons reen die kakiebos saadjies en die reuk slaan sterk op. By die huis maak ons die deur versigtig oop. Ons stap stadig in. Die mure is swart van roet. Voor die vensters is planke vasgespyker.
Die vervalle opstal
deur Wilke Strydom (15) Molteno
'n Ware Verhaal
Before