Grond tot Mond SEPT 2026 - Uitgawe 39 | Page 38

NUUS | BROKKIES

Goeie oeste bring verligting by die winkelrak

Suid-Afrikaners kry asemruimte by die kruideniersrak. Kosinflasie het in Julie tot sy laagste vlak in meer as 16 jaar gedaal, met vrugte, groente, graanprodukte en verwerkte kos wat goedkoper as’ n jaar gelede was. Agter dié daling lê goeie oeste, ruim plaaslike voorraad en laer graanpryse wat deur die voedselketting begin werk.

Volgens Stats SA het inflasie vir kos en nie-alkoholiese drank van 1,6 % in Junie tot 0,9 % in Julie gedaal. Vir kos alleen was die jaarlikse styging 0,6 %. Vrugte en neute was 7,5 % goedkoper as’ n jaar tevore, groente 2,5 % goedkoper en graanprodukte 2 % goedkoper.

BAIE KOS OP DIE MARK

Landbou-ekonoom Wandile Sihlobo van Agbiz skryf die laer pryse van vrugte en groente grootliks toe aan uitstekende opbrengste en ruim plaaslike voorraad. Sitrus, avokado’ s en groentegewasse is van die produkte waar sterk produksie die aanbod verhoog het.

“ Groot oeste en laer kommoditeitspryse kan inkomste knyp.”

Aartappels is’ n goeie voorbeeld. Volgens Potatoes SA was die gemiddelde prys gedurende die eerste 22 weke van 2026 op varsproduktemarkte R7,62 per 10 kg-sak laer as in dieselfde tydperk van 2025. BFAP het aangedui dat groot volumes aartappels en uie pryse onder druk hou.

38 GROND TOT MOND SEPT 2026