DEUR DIE LENS
“ Ek het’ n uitstekende span vroue,” vertel hy.“ Hulle snoei, suier en pars die druiwe. Die mans doen die swaarder werk." Hy belê voortdurend in snoeikursusse om die wingerd se lewensduur te verleng.“ Dit is’ n belegging in goud,” sê hy.
Floricius se passie lê by grond en wortels. Groot Constantia se sanderige leemgrond is lig, vrugbaar en granietafgeleid. Dit is ryk aan minerale, met’ n bogrond van sowat 250 tot 300mm diep. Die hoë reënval verhoog die risiko van erosie. Daarom kanaliseer hy afloopwater met dwarswalletjies na damme. Dekgewasse tussen die rye help om vog en minerale vas te hou.
Jare se proewe het hom baie geleer. Korog deurlug goed, maar seradella vorm’ n te digte mat. Kanola se stingels is te rof. Faba-bone breek maklik. Radyssaad bou biomassa op, maar lok bobbejane. Sy jongste sukses is bitterradys.“ Die diere vat een byt en los dit,” lag hy.“ Dit lyk soos onkruid, maar ek weet dis my werk.”
Daar is geen grondbewerking meer sedert drie jaar nie. Elke vier jaar sny’ n wikkelploeg net die wortels om die grond gesond te hou. Geen teerpale word gebruik nie. Slegs groen oplossings verseker suiwer druiwe. Uitdagings soos kalanders en donsskimmel word met natuurlike middels beheer. Deeglike rekordhouding verseker presiese spuitings. Rolblaarvirus deur witluis word biologies beheer met Anagyrus-wespies, wat hul eiers in die luise lê.
“ Al ons energie gaan in die grond,” beklemtoon Floricius.“’ n Gelukkige plant bou weerstand.” Hy voel bevoorreg om elke dag saam met sy gesin hier wakker te word. Dit is’ n wêreld waar die grond self die storie skryf.
OKT | NOV 2025 GROND TOT MOND 15