DEUR DIE LENS
Eers het sy net meer blomme in haar eie tuin geplant. Later is daar sommer in die bure se tuine ook geplant, en mettertyd is grond aangekoop om blomme op groter skaal te verbou. Só het’ n familieblombesigheid ontstaan wat vandag, bykans 100 jaar later, steeds’ n bekende naam onder bloemiste, groothandelaars en Kaapse blommeverkopers is. Vandag staan broers Günther en Volkmar Engelke aan die hoof van die onderneming. Die plaas, waar die blomme hoofsaaklik in tonnels verbou word, is net sowat 5 km van die winkel af. Dit maak hul daaglikse bedryf eenvoudiger en meer prakties. Volkmar fokus op die tegniese en operasionele deel van die boerdery, terwyl hul suster, Carla, by die blommewinkel betrokke is. Hoewel hulle vandag op minder grond boer as vroeër, boer hulle meer intensief. Die tonnels maak dit moontlik om meer oeste per jaar af te haal, maar dit bring ook nuwe uitdagings soos swamme, siektes en insekte.
MEI 2026 GROND TOT MOND 9