Grond tot Mond - Maart 2026 - Uitgawe 33 | Page 77

BOERBOKKE | KLIPFONTEIN

Die Boerbokbedryf is relatief groot, maar nie noodwendig soos die skaap- en beesbedryf nie. As jy’ n stoet in die bokbedryf wil begin, is dit dalk makliker om opgang te maak as wat dit is as jy’ n bees- of skaapstoet wil begin. Daar is baie meer stoettelers in daardie bedrywe.“ Ek diens nie meer regtig die kommersiële mark nie,” verduidelik Joubert.

“ Ek maak nou rammetjies groot tot op so sewe maande, en selekteer so 10 tot 20 wat ek grootmaak vir veilings. Die res verkoop ek óf aan omliggende boere wat dit as teelramme wil koop, óf soms verkoop ek’ n hele groep aan twee of drie produsente wat dit by my koop en dit dan weer verkoop. My ooie maak ek almal groot en sit hulle op veilings. Veilings soos dié in Pretoria by die Fire and Winearena en Engedi Manor in Muldersdrif by Krugersdorp is baie gewild en ons vaar goed daar.

“ Met die regte proses en laparoskopiese inseminasie kry ons meerlinge en handhaaf ons’ n lampersentasie van meer as 200 %.”

“ As’ n ooi drielinglammers kry, is ek bly omdat daar dan meer lammers is, maar vir my is die ideaal as’ n ooi twee lammers lam. Ek teel nie spesifiek vir meerlinge nie en steur my ook nie daaraan of die ma of pa deel van meerlinge was nie. Ek kon nog nooit daardie korrelasie maak nie. Ek het in elk geval’ n lampersentasie van oor die 200 %. Ek het begin om goeie saad in te koop en doen lapa, laparoskopiese inseminasie, nou oor’ n maand vir die tweede keer. As jy die regte proses daarmee volg, kry jy ook meerlinge. Ek doen dit nie self nie, daar is maar min mense in ons gebied wat lapa op bokke of skape doen, en ons kry mense van Ramsem vir daardie diens.

MRT 2026 GROND TOT MOND 77