Grond tot Mond Febraurie 2026 - Uitgawe 32 | Page 25

BROKKIES | NUUS

Wat die 2026-voorstel behels

Teen dié agtergrond het die debat oor die 2026- minimumloon nou weer opgevlam. Die Nasionale Minimumloonkommissie het’ n verhoging van die verbruikersprysindeks plus 1,5 % vir 2026 voorgestel. AgriSA het kennis geneem van die voorstel en herhaal dat loonbesluite nie in’ n vakuum geneem kan word nie: landbou funksioneer in’ n omgewing van verhoogde kwesbaarheid, en arbeidskoste moet teen dié sektorspesifieke realiteite verstaan word.

TLU SA se waarskuwing: koste wat werk kan kos

TLU SA waarsku intussen dat nóg verpligte loonverhogings in die huidige ekonomiese klimaat werksverliese, meganisering en verdere armoede kan vererger. Die huidige minimumloon van R28,79 per uur word reeds betaal binne’ n ekonomie wat sukkel om te groei. Suid- Afrika se BBP-groei is na raming sowat 1,9 %, ver onder die vlak wat nodig is om betekenisvolle werkskepping en ekonomiese herstel te ondersteun. Hierdie swak groei word verder ondermyn deur die energiekrisis, stygende insetkoste, korrupsie, beleids-onsekerheid en’ n staat wat toenemend nie daarin slaag om’ n gunstige sakeklimaat te skep nie.

“ Die regering se primêre taak is om’ n omgewing te skep waarin ondernemings winsgewend kan funksioneer. Sonder wins is daar geen belegging, geen uitbreiding en geen nuwe werksgeleenthede nie,” sê Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA.“ Wanneer die staat toenemend in produksiefaktore inmeng, veral deur loonvasstelling, word presies daardie groei ondermyn wat nodig is om armoede en werkloosheid aan te spreek.”

FEB 2026 GROND TOT MOND 25