Grond tot Mond Aug Sep 2024 - Uitgawe 23 | Page 34

AARTAPPELS | VIRUSBEHEER
Bo : Die Sandveld is alom bekend as een van die land se topstreke vir aartappelverbouing . Die sandgrond verleen ‘ n skoongrond waarin aantreklike aartappels geproduseer kan word , maar die prys wat boere vir dié skoongrond betaal , is hoë insetkostes . Hier moet aartappelprodusente na raming 50 % meer kunsmis gebruik as hulle binnelandse eweknieë .
BELANGRIKHEID VAN GESONDE PLANTMATERIAAL WILLIE MOUTON VAN GOERGAP , EENDEKUIL , WES-KAAP
In 2011 het Goergap slegs drie spilpunte met vier sirkels elk gehad . Agt jaar later het dit uitgebrei na 15 spilpunte met 60 aartappelsirkels . Willie rus sy aartappelsirkels vir minstens vier jaar tussen aanplantings om die grond gesond te hou . Hy het jaarliks ongeveer 280 ha in produksie wat 14 000 ton aartappels lewer . “ Die grootste uitdaging met aartappels is om skoon plantmateriaal en moere te kry . Rolbladvirus is vir aartappels geweldig destruktief . As jy saad plant wat met die virus besmet is , kry jy glad nie ‘ n oes nie . Gegewe die hoë insetkoste van R160 000 per hektaar , is die oorsprong en gesondheid van plantmateriaal uiters belangrik ,” sê Willie .
Die keuse van kultivars is ‘ n ander belangrike aspek van virusbeheer . Sekere kultivars is meer aantreklik vir plantluise , wat die risiko van infeksie verhoog . Boere moet die verskaffer van die kultivar vra vir meer inligting oor hoe om plantluise te beheer en moniter deur geelbakvalle in aanplantings van elke kultivar te plaas .
Monitering is ‘ n kernkomponent van ‘ n suksesvolle virusbeheerstrategie . ‘ n Plantluismoniteringsnetwerk is in 2005 deur Aartappels Suid-Afrika , die Universiteit van Pretoria en die Wes-Kaap Departement van Landbou van stapel gestuur . Hierdie netwerk , wat gebruik maak van suigvalle in verskeie moerproduserende streke , help om tye van die jaar wat hoë risiko ’ s vir virusoordraging bied , te identifiseer . Hierdie data help boere om hul planttye en beheermaatreëls beter te beplan .
VERSPREIDING VAN VIRUSSE EN DIE ROL VAN PLANTLUISE
Moere is die belangrikste manier waarop virusse van een produksiestreek na ‘ n ander versprei word , en selfs van een kontinent na ‘ n ander . Plantluise speel ‘ n deurslaggewende rol as vektore van hierdie virusse , dus is die beheer van plantluise van kardinale belang in die beperking van virusse in aartappelproduksie .
Ten slotte speel tegnologie ‘ n belangrike rol in die bestuur van virusse en plantluise in aartappelproduksie . Moderne toetse soos die ELISA- en rt-PCR-toetse help boere om virusse vroegtydig op te spoor en betyds maatreëls te tref om verdere verspreiding te voorkom . Hierdie toetse is veral nuttig in die identifisering van virusse in vars knolle en onlangse besmette blare .
Die kombinasie van tegnologie , monitering , goeie bestuur en die gebruik van gesertifiseerde plantmateriaal stel boere in staat om die risiko van virusinfeksies en die gevolglike oesverliese aansienlik te verminder . Deur hierdie stappe te volg , kan die Suid- Afrikaanse aartappelbedryf sy produktiwiteit verhoog en sy ekonomiese volhoubaarheid verseker .
34 GROND TOT MOND AUG | SEP 2024