Grond tot Mond Aug Sep 2024 - Uitgawe 23 | Page 31

VIRUSBEHEER | AARTAPPELS
DIE UITDAGINGS VAN VIRUSBEHEER
Suid-Afrika het spesifieke maatreëls ingestel om die verspreiding en impak van aartappelvirusse te beperk , insluitend sertifiseringskemas . Die sukses van hierdie skemas hang af van faktore soos die vroeë opsporing van virusbesmetting , akkurate toetsing , en streng toepassing van die voorgeskrewe maatreëls . Dit vereis ook die gebruik van gesertifiseerde saad en die doeltreffende beheer van plantluise wat as vektore vir die virusse dien .
Alhoewel daar verskeie virusse is wat aartappels kan besmet , is aartappelvirus Y ( PVY ) en aartappelrolbladvirus ( PLRV ) van die grootste ekonomiese belang in Suid-Afrika .
WAAROM IS VIRUSBEHEER SO MOEILIK ?
Hoewel die beginsel van virusbeheer eenvoudig mag klink – naamlik om die bron en verspreiding van virusse en hul vektore te beperk – is dit in die praktyk baie moeiliker om te implementeer . Verskeie faktore dra by tot die kompleksiteit van virusbeheer in Suid-Afrika :
In die meeste van die produksiestreke in Suid-Afrika is die winters nie straf nie , wat beteken dat wintergewasse steeds geplant word . Hierdie konstante bron van groenigheid bied ‘ n geskikte habitat vir die virusse en hul vektore , soos plantluise . Gevolglik neem die populasie van plantluise nie voldoende af gedurende die wintermaande nie , en bou dit weer baie vinnig op wanneer die somer aanbreek .
In sommige streke in Suid-Afrika vind aartappelproduksie regdeur die jaar plaas . Dit maak dit buitengewoon moeilik om die bron van virusse en die verspreiding daarvan deur plantluise te beperk , aangesien daar nie ‘ n breek in produksie is nie .
Aartappels word op verskillende tye van die jaar geproduseer , en moere moet regdeur die jaar beskikbaar wees . Hierdie voortdurende produksie het tot gevolg dat sertifisering al hoe meer op toetse steun omdat virussimptome nie altyd sigbaar of herkenbaar is nie .
‘ N HOLISTIESE BENADERING TOT VIRUSBEHEER
Om die verspreiding en beheer van virusse beter te verstaan , is dit belangrik om drie sleutelfaktore in ag te neem : die plant , die plantluis ( vektor ), en die virus .
Oesverliese as gevolg van virusse kan tot 90 % beloop . Sekere kultivars is meer aantreklik vir plantluise as ander , wat die risiko van infeksie verhoog . Daar is egter kultivars wat ‘ n mate van toleransie teen PVY en / of PLRV toon . Verder is daar ‘ n groot aantal plante wat as gashere vir PVY kan dien , terwyl gashere vir PLRV hoofsaaklik beperk is tot die Solanaceae ( nightshade ) - familie . Die uitdrukking van virussimptome kan egter wissel tussen kultivars , groeistadiums , en die stadium van infeksie .
ROTASIESTELSELS VIR DIE BEHEER VAN SIEKTES BEN DU TOIT VAN VREDELUST , KOUE BOKKEVELD , WES-KAAP
Aartappels is Vredelust se grootste produk met sowat 150 ha onder produksie , terwyl uie volg met ongeveer 175 ha , en die uieaanplantings brei steeds uit . Ben verduidelik dat hulle lang rotasiestelsels vir hul aartappels en uie gebruik . Een jaar word aartappels geplant , die volgende jaar uie , en daarna lê die land vir twee jaar braak . Dit word gedoen om virusse te beperk en onder beheer te hou . “ Dit was altyd my pa se versekeringspolis om siektevry te produseer , maar ’ n mens moet genoeg grond beskikbaar hê om op hierdie manier volhoubaar te kan boer , anders kan jy gou jou vingers verbrand . Aartappels kry dikwels bruinskurf , silwerskurf , en aartappelmot , terwyl minder siektes die uie aanval . Dis geen wonder dat hulle ’ n fliek met die titel Faith like Potatoes gemaak het nie – dis maar ’ n moeilike bedryf ,” sê hy glimlaggend .
AUG | SEP 2024 GROND TOT MOND 31