Flink Januarie 2024 56 | Página 4

OP DIE VOORBLAD
Dr . JD Kestell , ook bekend as Vader Kestell , was ' n predikant in die Nederduits Gereformeerde Kerk , skrywer , kultuurleier en Bybelvertaler .

John Daniel Kestell was die vyfde van ses kinders en is op 15 Februarie 1854 in Pietermaritzburg gebore . Sy pa , Charles Kestell , was van Walliese herkoms terwyl sy ma , Dorothea Louisa Weyer , Afrikaanssprekend was . Charles het in 1845 met die skip Rosebud na Suid-Afrika gekom en hom in Pietermaritzburg gevestig . Hy het hom by die NG kerk aangesluit en as ouderling en diaken gedien . Toe John vier jaar oud was , is sy ma oorlede en sy pa is weer getroud . As kind het hy talle van die Voortrekkers ontmoet , onder wie Sarel Cilliers , JN Boshoff en Erasmus Smit . In 1869 het hy sy eerste lesse in Grieks ontvang . Die volgende jaar het hy die skool verlaat en op 6 Oktober 1870 het hy by P Maré begin werk . In hierdie tyd is diamante in Griekwaland-Wes ontdek en op 17 Mei 1871 het hy saam met sy pa na die diamantkleims by New Rush vertrek , waar hulle genoeg verdien het om aan die lewe te bly en ' n bietjie te spaar . Hulle het die kleim ' n jaar en ' n half later verkoop en in Januarie 1873 na Pietermaritzburg teruggekeer .

Hy het vanaf Maart 1873 aan die Stellenbosch Gimnasium studeer en in 1875 matriek voltooi .
Hy het in 1874 tot bekering gekom en op 6 Februarie daardie jaar aangeteken dat hy ' n predikant wou word .

Vader

Kestell

Na skool het hy hom by die Kweekskool in Stellenbosch , waar proff . NJ Hofmeyr en John Murray hoogleraars was , ingeskryf . Intussen het sy pa groot finansiële terugslae gely met transportry na plekke soos Durban , Pretoria , Middelburg ( Mpumalanga ) en Bloemfontein . In 1876 het sy pa osse op skuld gekoop om ' n vrag na Middelburg te vervoer , maar onderweg het die weerlig die meeste van daardie osse doodgeslaan . Hierna is hy verplig om John te laat weet dat dit nie meer vir hom moontlik was om hom geldelik te ondersteun nie . Ds . Abraham van Velden , die predikant in Pietermaritzburg , het daarna £ 40 by sy lidmate ingesamel om hom te help . Tydens sy studies op Stellenbosch kon John nooit bekostig om huis toe te gaan nie en daarom het hy sy vakansietye saam met vriende deurgebring . In September 1878 kon hy vir die eerste keer in meer as vyf jaar huis toe gaan nadat sy pa genoeg geld gespaar het . Hy kon ' n maand tuis deurbring voordat hy teruggegaan het na Stellenbosch .
3 AFRIKAANS