Vyf .
As jy nie daaroor wil praat nie , is dit OK .
Hy is so lank stil , sy dink hy het gaan slaap . Sy gaan borsel haar tande , piepie . Toe sy haar selfoon wil herlaai , sien sy die boodskap .
Ek het altyd gedink dit was hy , die digter , wat die moord gepleeg het .
Die selfoon val uit haar hande .
Die battery waarsku dat sy nog 1 % batterykrag oor het . Asseblief , moenie nou doodgaan nie .
My ma het met elke oproep vir my gesweer dat sy onskuldig is . Nadat ek hulle briewe gelees het , het ek geweet dit is nie hy nie . Sy laaste brief eindig met die woorde : die skuldige gaan boet al is dit na ons dood .
Wat gaan die verslaggewer met die briewe doen ? Ek sou dit graag wil lees .
Die selfoon se skerm word skielik pikswart . Dood .
Sy herkou aan hul gesprek , onthou Moeksie se woorde : Die Bosoorlog maak mans mos stil .
Maar Pappa was nooit op die Grens nie . Was sy hele lewe lank ' n kapelaan , toe dominee .
Is dit die dood op die vrou oor wie hy so dig wat hom stom gemaak het ? Is dit hoekom hy nooit vir Moeksie kon sê hy is lief vir haar nie ?
Dit is die polisiesirenes wat haar wakker maak . Hulle snel verby . Ida gryp haar selfoon , kyk . Geen verdere boodskap op Instagram nie .
Sy loop kombuis toe , kyk in die verbygang hoeveel eenhede krag is oor , skakel die geyser aan , druk ' n kaastoebroodjie in die mikrogolfoond . Trek die gordyne oop soos sy van vertrek beweeg . Pols op die bank neer , langs die stapel klere . Verdomp , hoekom het sy nie gister gestryk nie ? As Moeksie dit moet sien , trek sy sowaar as vet vandag nog hier in .
Ida Google Loraine Kleinbooi en lees alles oor haar saak en galgdood wat sy kan . Nêrens word iets genoem oor haar verhouding met die digter nie . Die mees verdoemende bewys teen haar , was die staatspatoloog se getuienis dat die moord waarskynlik deur ' n vrou gepleeg is .
Ida ruk soos sy skrik toe die selfoon in haar hande lui . Moeksie .
“ Hoe laat kan ek die digbundel kom haal ?”
“ Het Pappa nooit oor sy gedigte gepraat nie ? Op skool ?”
Moeksie sug . “ Op skool het al wat Afrikaanse onderwyser is , gedink hy is die volgende groot digter .” Stilte , dan : “ Maar hy het net opgehou ... of so het ek gedink .”
“ Wie ' s Loraine ?”
“ Ida Hofmyer , waar kom jy aan daardie vroumens se naam ?” Dit klink of Moeksie ' n doodsvonnis uitspreek .
Ida wag totdat die kerkklok ophou lui voor sy antwoord . “ Haar seun het my ge-DM .”
“ Haar seun ? DM ? Moet niks glo wat hy sê nie .” Die laaste sin word uitgeskreeu .
“ Moeksie ?” Sag , onseker . “ Jy . Pappa . Sy ...”
“ Pappa het nie haar man doodgemaak nie ! Ek het ...” Skaars hoorbaar : “ Ek het ... sy het my man van my weggevat , toe vat ek haar man weg ... en vir haar uit my lewe ,” Moeksie skree-huil : “ Maar selfs in die dood het Pappa haar gekies .”
Ida druk die selfoon dood . Wat moet sy doen ? Sy kan sekerlik nie haar ma by die polisie verkla nie , maar stilbly kan sy nog minder . ' n Onskuldige vrou het gehang ...
Sy blaas haar asem stadig uit . Tik vir die Pastoor :
Ons moet praat . Kan ons ontmoet ? Wat ' s jou naam ?
Sy is besig om haar koffie te roer , toe sy boodskap deurkom . Stof dans in die sonstraal .
Ons kan . Waar bly jy ? My naam is Hendri Hofmyer . My ma wou seker maak apartheid weet wie haar eerste liefde was .
Stefaans Coetzee
AFRIKAANS
36