nagevolg is in die tyd van die mensgeworde Jesus en sy apostels , het geleer dat die mens beheer oor homself behoort te neem . Ons persoonlike aksies , gedagtes en reaksies staan onder ons eie beheer . Deur selfbeheersing kan die mens sy emosies onderdruk en suksesvol wees . Die etiese optrede van die individu is bepaal deur sy wil in ooreenstemming met die natuur ( universum ) te bring . Vir die persoon met ' n Stoïsynse ingesteldheid sal “ Ek sal Self ” dus beteken dat sukses bepaal word deur soveel as moontlik bokant jou emosies uit te styg , sodat jy jou vermoëns ten beste kan benut . Jou bron van krag lê dan in jouself deur selfbeheersing , dit wil sê die beheersing van jou denke en emosies .
Die apostel Paulus het die bekende uitspraak gemaak :
“ Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee ” ( Filippense 4:13 AFR83 ).
Vir ons Afrikaners , wat vandag oortuig is daarvan dat sekere sake in eie hande geneem behoort te word om te oorleef , is dit ' n belangrike stelling om ons koers te bepaal . Dit is ' n ingrypende korreksie op die Stoïsynse standpunt van selfbeheersing en selfdoen vanuit jou eie menslike vermoëns . Hulle stelling “ Ek is tot alles in staat ” word in sy wese verander deur die byvoeging “... deur Hom ( Jesus Christus ) wat my krag gee ”. Die apostel skryf die brief teen die agtergrond van sy eie omstandighede . Hy het soms gebrek gely , soms weer oorvloed gehad . Hy was dikwels in lewensgevaar , is in die gevangenis gegooi , gemartel en verguis . Tog kon hy te midde van uitdagende omstandighede staande bly om die opdrag van Christus uit te voer . Hoe het hy daarin geslaag ? Deur selfbeheersing ? Nee ! Deur sy emosies te beheer ? Nee ! Deur sy morele kompas in die natuur te soek ? Nee !
Ons bron van krag lê nie in onsself nie . Inteendeel , ons word tot optrede bemagtig “ deur Hom wat my krag gee ”.
DIE MENS IS IN WESE SWAK In Paulus se brief aan die Korintiërs maak hy die skynbaar teenstrydige stelling “ As ek swak is , is ek sterk ” ( 2 Korintiërs 12:10 AFR83 ). Hy skryf dat die Here hom teen hoogmoed beskerm het deur ' n doring in die vlees . Hy moes sy eie swakheid erken . Die antwoord op sy gebede om van die doring bevry te word , was “ My genade is vir jou genoeg . My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is .” Ook Dawid het aan sy Verlosser die erkenning gegee vir sy militêre suksesse in die beeldspraak “ Want met U loop ek ' n bende storm , en met my God spring ek oor ' n muur ” ( Psalm 18:30 AFR53 ).
Die ou Israeliete is na hulle intog in die beloofde land gemaan om nie op hulleself trots te wees oor wat bereik is nie .
“ Jy kan dalk dink : my krag en my sterk hande het vir my hierdie rykdom verwerf . Maar jy moet die Here jou God nie vergeet nie , ...” ( Deuteronomium 8:17-18 AFR83 ).
Laat ons dan in ons Koninkryksdiens , waar ons ook ter wille van die behoud van ons eie beplan en projekte loods , dit altyd met erkenning van ons eie swakheid doen . Die krag en wysheid en volharding kom van Hom wat deur sy Gees in ons woon . Aan Hom kom die eer toe . Sy krag word in ons swakheid volbring .
LEER UIT DIE GESKIEDENIS Daar is talle lesse uit die geskiedenis te leer . Nie alleen uit ons eie volksgeskiedenis nie , maar uit gebeure in die geskiedenis van die ganse mensdom . Hier volg ' n paar voorbeelde van optrede wat ' n groep of volk op dwaalweë kan lei .
Wie sy eie verafgod , kom tot ' n val . Wanneer ' n volk of kultuurgroep sy eie verhef bo die belange van die Koninkryk van God , word koers verloor . So ' n optrede kan nie die seën van die Almagtige God verwag nie .
Waar hoogmoed Christelike nederigheid verdring , sal God diegene wat in hulle eie oë groot is tot ' n val bring .
Wanneer jou norme bepaal word deur die situasie waarin jy is , om byvoorbeeld vir oorlewing sake na te jaag waar die doel die middel heilig , word perspektief verloor . Sulke optrede lei tot allerlei “ -ismes ”, waarin die mens en sy behoeftes God van sy troon wil stoot .
KONINKRYKSDIENS IN “ EK SAL SELF ”? Hoe mooi die slagspreuk “ Ek sal Self ” ook al in ons ore klink om mense tot aksie aan te moedig , moet elkeen waak daarteen om nie te vergeet dat dit alleen moontlik is “ deur Hom wat my krag gee ” nie . Koninkrykswerk vra Koninkryksperspektief .
Dr . Callie Opperman Netwerk vir Afrikanerbelange , Namibië
Beproewing dra dus die wonderlike vrug van nederigheid , wanneer gelowiges tot erkenning gebring word dat hulle in hulleself te swak is om te volhard , nog minder om suksesvol te wees . Die Skrif leer ons dat ware Christenskap na vore kom waar gelowiges nie slegs bely dat hulle Jesus as Here en Verlosser erken nie . Navolging van Christus vra nog meer , dat ons in onsself moet sterf , sodat Christus in ons leef . Sodoende kruisig ons die hoogmoed wat kan ontstaan uit “ Ons sal Self ” -suksesse . Dit lei ons op ' n pad waar ons persoonlike koninkryke opgeoffer word ter wille van die Koninkryk van die hemel .
AFRIKAANS
10