kosmaak . Dan was daar tafeltennis , rugsakstap op die vele bergpaadjies en saamkuier met die Transvaalse familie .
As kind was dit weer saam met my ouers ' n paar keer Jeffreysbaai toe . Ek wat ' n joernaal hou oor gebeure en ervarings – gewoonlik met ' n goeie skeut humor wat uitsluitlik bedoel was om my drie susters se siel uit te trek . Ek loop onlangs een van my “ vakansiepublikasies ” raak . My koerantjie het selfs ' n naam en die berigte is in eg joernalistieke styl geskryf ! Met uitknipsels uit tydskrifte om as foto- “ bewyse ” te dien van gebeure . Ek onthou weer wie ek toe was en waaroor ek gedroom het . Party drome het nooit waar geword nie ; ander is nogal nie ver van bewaarheid af nie . Ek onthou ons standaard gesinsgrappies en uitdrukkings wat tot vandag toe nog deel is van ons gesin se eiesoortige gesinstaal . En so bly gesinsvakansies een van die hoogtepunte uit my kinder- en jeugdae . Daarsonder sou ek nie die herinneringe gehad het wat ek vandag het nie en daarsonder sou ek nie gewees het wie ek vandag is nie . Die interessante is dat ' n mens nie alles in besonderhede onthou nie , maar jy weet dit was iets wat julle as gesin op ' n besondere manier aan mekaar gebind het . Dit was nie net onthoutye nie , dit was veral ook vormingstye en tye waarin julle as gesinslede by wyse van spreke die “ geledere gesluit ” het .
Wanneer ' n mens oor ' n onderwerp soos hierdie skryf , is jou eerste reaksie om , soos ek , weg te spring en oor jou herinneringe te skryf . Daarna beland jy egter in die versoeking om die leser te waarsku teen dié dinge wat ' n gesin nie in vakansietyd behoort te doen nie . Hierna volg daar dan gewoonlik ' n aantal wenke van wat “ die regte ding is om te doen ”. Dis nou as gesinstyd vir jou belangrik is .
Maar wat is jóú unieke plek in die gesin waarvan jy deel is ? Dis gesond om gereeld hierdie soort vrae aan jouself te stel . Daar is meer mense as net jyself by hierdie gesinsverbintenis betrokke en uiteraard het julle elkeen ' n verantwoordelikheid om hierdie bousteen van die gemeenskap maksimaal te laat werk . Maar dan nie noodwendig teen die moderne lewe se spoed nie . Inteendeel , vir gehalte gesinstyd moet jou spoed juis in vakansietye gebreek word !
Wat my by vakansietyd bring . Hier is geleentheid vir die gesin , wat in die vinnige maalstroom van ons tyd beweeg , om doelbewus af te skaal , rustiger te word en ' n slag weer verlore perspektief te herwin . Maar soms voel ek agterna die vakansie is verby en ek het steeds ' n hol kol op die maag . Die vakansie is verby en ons was maar net op ' n ander plek as die huis en dit het ons báie gekos ! Ons het ' n paar nuwe dinge gesien , op ' n paar plekke gaan uiteet en miskien die jongste trekpleister op die een of ander vakansieplek gaan beleef , maar wat ons eintlik gedoen het , was om ons gejaagde lewe net op ' n ander plek te gaan voortsit . Of miskien was die vakansie júís lekker omdat ons iets “ anders ” op ' n ander plek gaan doen het . Wie weet ? Wat wel waar is , is dat nie alle gesinsvakansies in die ware sin van die woord gesinsvakansies is nie .
Hoe kan ' n mens na ' n vakansie sê dat jy en die mense saam met jou ' n ware gesinsvakansie gehad het ? As genoeg gesinstyd die maatstaf was , sal ons ' n paar vrae vir onsself wil beantwoord :
• Wat beskou ons gesin as gesinstyd ? Hiermee bedoel ek elke lid van die gesin . Of is dit net ' n mooiklinkende term wat ons gebruik ?
• Verstaan elkeen sy verantwoordelikheid teenoor die res van die gesin om “ gesinstyd ” te laat werk soos dit moet ?
• Het elke gesinslid die geleentheid wat vakansies as gesinstyd bied , benut en dit werklik geniet ?
• Wat van ' n Bybelse opdrag ? Wat sê die Bybel oor die Christen en rus saam met sy gesin ?
• Het hierdie “ gesinsvakansie ” enige verskil gemaak ? Het dit ' n verskil gemaak aan ons gesinsverhoudinge ; het ek my kind of huweliksmaat of ouer beter leer ken en hy of sy vir my ? Het ons groter waardering vir mekaar na afloop van die vakansie ? Verstaan ons gesin ons rol as gemeenskap in die kleine nou beter ?
In die polities korrekte tye waarin ons leef , het dit ongewild geraak om te sê ons “ trek laer !”, maar ' n gesin wat die term reg verstaan , weet hoe om sy gesinseenheid te beskerm . Hy versterk homself voortdurend intern en die lede steun mekaar onvoorwaardelik , want waar bloed nie kan loop nie , daar kruip dit .
Daar is ' n magdom inligting en goeie wenke tot ons beskikking oor hoe sulke vakansies kan lyk . Afhangende van die gesinsamestelling , veral wat ouderdom betref , lees ek van saam kosmaak , pretpark- of dieretuinbesoeke , plaas toe te gaan ( as jy bevoorreg is om dit te kan doen ) of vir die plaasmense om ' n bietjie die stad te kom beleef , fliek , teater , waterpret , uitkamp , stories langs ' n kampvuur , baie lag , ver ente stap , om die see en die sand te geniet , om saam te sing as dit iets is wat julle geniet en veral as daar musikales in die gesin is wat ' n musiekinstrument of twee kan bespeel , om tyd te maak vir huisgodsdiens , om te praat oor tradisies en om rekord te hou van al die lekkerte met foto ' s of ' n plakboek of , ja , ' n gesinskoerantjie ! Kersvakansies en Paasvakansies bied weer die geleentheid om op die tradisie en ware betekenis van die Christus se geboorte , lyding , sterwe en opstanding te fokus .
En net toe jy dink ek laat die TV uit , toe is jy reg ! Ek laat hom uit … Nou ja , as daar ' n rugbytoets is , kan ons maar seker gou by iemand anders gaan kyk wat die telling is !
Laastens , op dae soos Moedersdag het my ma , as ons haar gelukwens , gesê : “ Dankie my kind , maar elke dag moet Moedersdag wees ”. So behoort elke behoort by wyse van spreke soos ' n vakansie met “ gesinstyd ” te wees . Dit behoort ' n leefwyse te word ten spyte van die tempo waarteen ons leef . Miskien moet ons as gesin besluit hoe ons ons eie lewens-tempo kan bepaal sodat vakansietye ' n opwindende voortsetting van gesinstyd is wat in elk geval in die gewone gang van sake by ons gesin ' n leefwyse is .
Die Afrikaanse TAALSKRIF 11