Flink April 2024 57 | Page 19

in die meervoud te bid . Alhoewel dit logies klink , moet ons weet dat hierdie beginsel totaal teen die tydsgees ingaan . In die samelewing floreer selfsug , eie-ek belange en onverdraagsaamheid . Die geheim wat Jesus ons leer , is om selfs wanneer ons bid , ons self los te maak van myself en ook deurbreek na ander . Dink maar hoe gaan dit as ons bid : My gesondheid , my sonde , my sorge , my moeite , my verdriet , my swakheid . Jesus deurbreek dit alles as Hy ons leer bid : Onse Vader . Die roeping van die Skrif gaan oor ons wat leef tot eer van God . Sy opdrag is duidelik : Gee om vir mekaar , in diens aan Hom .
OMGEE IS PRAKTYK
Hierdie omgee ontvou in ' n verskeidenheid opdragte in die Skrif , onder andere dat ons moet omsien na die weduwee en die wese , dat ons moet vreemdelinge liefhê , dat jy hulle wat jou haat iets moet gee om te eet , dat ons selfs ons vyande moet liefhê .
Omgee is om nie dadelik die resultate van jou omgee te wil sien of te wil beleef nie . Die ou beginsel geld , naamlik die linkerhand hoef nie te weet wat die regterhand doen nie . Ons leef in ' n tydsgees van prestasies en belonings . Omgee is om te gee , sonder om om te gee of jy iets daarvoor terugkry . Dit is saai , sonder om die oes te sien en te verwag .
Om om te gee , is dus :
Ÿ ' n Bybelse opdrag Ÿ ' n spontane leefwyse van ' n gelowige Ÿ nie ' n las nie maar ' n vreugde Ÿ nie iets wat beloon word nie , maar wat sy beloning in homself het Ÿ wat lekker is Ÿ wat iemand anders bly maak en help Ÿ wat ander se las verlig Ÿ wat jou weg van jouself laat kyk en na ander laat kyk Ÿ ' n roeping aan elkeen van ons .
Hoe leer die Bybel moet ons omgee ?
LEEF OMGEE
Dink net hoe ' n groot verskil maak dit in hierdie wêreld as gelowiges na buite leef en bely : Ons gee om . Ons is verantwoordelik vir mekaar – ons help mekaar se laste dra . Uit ons eie leefwêreld kan die meeste van ons getuig hoe baie dit help as iemand op die regte tyd daar is om te help , te ondersteun . En die wonderlike Skrifwaarheid is altyd geldend dat hoe meer jy gee hoe meer sal jy ontvang . Nie noodwendig terug dit wat jy gee nie , maar soms heel anders . Nie omdat jy meer verwag omdat jy gee en deel nie , maar omdat daar iets vervullends daarin is . ' n Vrede en ' n rustigheid . Asof die gee ' n mens self vervul en volmaak .
SIEN NOOD RAAK
As jy in die nood is , wil jy so graag sien dat daar na jou omgesien word . Daarom moet ons ook aanleer om die nood van ander raak te sien . Ons moet biddend pleit dat ons ook ingestel raak op die nood van ' n ander . Hoe mooi leer Jesus Christus ons nie ook bid in die Onse Vader nie – dit gaan nie in hierdie wêreld net oor my nie – dit gaan ook oor ' n ander – dit gaan oor ons . Hy leer ons doelbewus om
Ÿ Ons moet bid sonder ophou . Ÿ Ons moet gee met blymoedigheid en sonder dwang . Ÿ Ons moet opreg wees . Ÿ Ons moet meer doen as die gewone . Ÿ Ons moet werklik help . Ÿ Ons moet ' n verskil maak .
Hierdie opdrag om om te gee , strek so ver dat die Skrif ons selfs leer :
“ As jy jou vyand se esel onder sy pak sien lê , moet jy dit nie onverskillig aan hom oorlaat nie : jy moet dit sekerlik saam met hom aflaai ” ( Eksodus 23:5 ).
Gee om , leef omgee , sien nood raak en word so deel van ' n samelewing wat nie ingestel is op wat ek kry nie , maar wat ek kan gee . Dit is immers saliger om te gee as om te ontvang .
Hannes Noëth Solidariteit Helpende Hand
AFRIKAANS
19