Die Agri Handboek 5de Uitgawe | Page 621

619 waardetoevoeging en landbouverwerking Droëvrugte 1. Oorsig Droëvrugte is vrugte wat gedroog is, sy dit op natuurlike wyse of deur die gebruik van ’n masjien soos ’n voedseldehidreerder. Rosyne, pruimedante en dadels is voorbeelde van gewilde droëvrugte. Ander vrugte soos appels, appelkose, kiwivrugte, mango’s, nektariens, piesangs, rooibosbessies, vye, veselperskes, papajas, perskes, pere, tamatiepruime, pynappels, aarbeie en tamaties kan ook gedroog word. Die droging van vrugte help om dit te preserveer, selfs indien dit nie verkoel kan word nie, en verleng die rakleeftyd daarvan aansienlik. Wanneer vars vrugte nie beskikbaar is nie, onprakties is of buite seisoen is, kan droëvrugte as alternatief dien. Dit word dikwels by bakmengsels en ontbytgraankosse gevoeg. Die Suid-Afrikaanse rosynebedryf vind baat by die internasionale toename in gesondheidsbewustheid. Die voordele van droëvrugteproduksie sluit die volgende in: • ’n Langer raklewe en dus ’n langer bemarkingstyd, sodat droëvrugte die hele jaar beskikbaar is • Minder bergruimte, wat vervoerkoste verlaag • Lae of geen verkoelingskoste nie • Geskilde vrugte, gesny en gereed vir die verbruiker • ’n Hoër gedehidreerde waarde as vir vars produkte • Goeie aanpasbaarheid by ander bestanddele in droëvoedselmengsels • Meer stabiele pryse as vir vars produkte 2. Plaaslike sakeomgewing Suid-Afrika is ’n kleinskaalse mededinger op die internasionale mark. Ons voer jaarliks tussen 30 000 en 40 000 ton rosyne uit. Die plaaslike aanvraag is tussen 10 000 en 12 000 ton. Beide die plaaslike bemarking en die uitvoer van droëvrugte is vry van regeringsinmenging. Wanneer die vrugte uitgevoer word, moet daar egter aan die vereistes en gehaltestandaarde vir plantgesondheid voldoen word. Droëvrugte word hoofsaaklik in die Wes-Kaap, die Suidwestelike Distrikte, die Noord-Kaap, die Klein Karoo, die Olifantsriviergebied en die gebied van die Bo- en Benede-Oranjerivier geproduseer. Appelkose word grotendeels in die Klein Karoo verwerk. Pruimedante word byna uitsluitlik in die Tulbaghdistrik van die Wes-Kaap verbou, en die meeste rosyne langs die Benede-Oranjerivier. Korente is uit die Vredendaldistrik afkomstig. Boomvrugte, in teenstelling met wingerdvrugte, word hoofsaaklik in die Wes-Kaap en in die Suidwesteli