49
bemarking en finansiële
dienste
Agri-ondernemings en “nuwe
geslag” landboukoöperasies
1. Oorsig
Koöperatiewe verenigings het aanvanklik tot stand gekom om boere
wat saamgemaak het, in staat te stel om genoeg kapitaal te bekom om
toerusting in groot maat te koop en hul produkte te verkoop. Die doel
van hierdie verenigings was om boere se winste te vergroot. Dit het hulle
gedoen deur die beste markpryse vir produkte te beding, nuwe markte te
vind en toerusting in groot maat te koop.
In die 1990’s het Suid-Afrika groot veranderinge ondergaan. Die
sosiopolitieke veranderinge was voorbladnuus oor die wêreld heen.
Daar was ook ander veranderinge: plaaslike ekonomiese deregulering,
die afskaffing van kwantitatiewe invoerbeheer ingevolge die AOHT (die
Algemene Ooreenkoms van Handel en Tariewe) en ooreenkomste van
die WHO (Wêreldhandelsorganisasie), terwyl die blootstelling van SuidAfrikaanse landbou aan globalisering ook aanleiding gegee het tot die
herroeping van die Wet op Landboubemarking.
Koöperasies is daarna toegelaat om nieboere as lede en direkteure te hê,
en kon wegbeweeg van die gebied waar hul lede boer – op voorwaarde dat
hulle in maatskappye omskep word. Hierdie wetgewing is met gemengde
gevoelens begroet.
Sommige koöperasies wat besluit het om om te skakel, het by hewige
geskille met individuele boere betrokke geraak. Hierdie boere het gemeen
dat die nuwe ondernemings se prioriteite sou verander – dat hulle nie meer
in eerste instansie op die belange van die boere sou fokus nie maar eerder
op die belange van beleggers (agrimaatskappye moes winsgedrewe word
ten einde seker te maak dat nielandbou-aandeelhouers ’n opbrengs op
hul beleggings verdien). Daar was argumente ten gunste van omskakeling:
nielandbou-aandeelhouers sou meer kapitaal in die nuwe entiteit belê
as wat boere in ’n koöperasie sou kon belê. Hulle sou ook sake- en
bestuursvernuf met hulle saambring. Sommige van hierdie omskakelings
het beteken dat die boere hul aandele verkoop het en die bestuur van die
voormalige koöperasies prysgegee het. Sommige koöperasies wat beplan
het om maatskappye te word, het van plan verander: kapitaalstrukture was
bevredigend of hulle het veilig gevoel in ’n bepaalde marknis.
Hierdie omgewing, wat al mededingender geword het, was nou onderhewig
aan konsolidering, waarby daar soms oorvleueling voorgekom het – iets wat
tot kort tevore nie kenmerkend van hul bedrywighede was nie.
Agri-ondernemings speel ’n beduidende rol in die ekonomie as die
hanteerders, verwerkers en bemarkers van landbouprodukte, en as
die verskaffers van produksie-insette en dienste. Voorts is hulle groot
werkverskaffers, ontwikkelaars en bronne van toegevoegde waarde.
In baie landelike gebiede is hulle die besigheidskern van die gemeenskap
en lewer hulle ’n sleutelbydrae tot die instandhouding van die landelike
infrastruktuur.
Agri-ondernemings, met inbegrip van koöperasies, lewer ’n groot
verskeidenheid produkte en dienste. Die produkte bestaan grotendeels uit
kommoditeite, aangesien hulle aanvanklik hoofsaaklik by die eerste stadium
van die verwerking van plaasprodukte betrokke was. Afgesien van die
voorsiening van landbou-insette strek hul dienste nou egter verder. Hulle
bevorder byvoorbeeld bemarking deur boere te help om die beste pryse vir
hul oeste te beding. Boere word gehelp om hul risiko te bestuur en om hul
graan te berg. Finansiële dienste is ook steeds ’n belangrike aspek, hoewel
handelsbanke hierdie tradisionele rol al meer begin oorneem.
2. Verenigings wat betrokke is
Landboubesigheidskamer (Agbiz)
Tel: 012 807 6686
Faks: 012 807 5600
www.agbiz.co.za
Die Landboubesigheidskamer (Agbiz) verteenwoordig landbouondernemings en landboukoöperasies in die ontwikkelende landbousektor;
maatskappye wat ontstaan het uit die omskakeling van landboukoöperasies;
en ander landbou-ondernemings en organisasies. Agbiz streef daarna om sy
lede-organisasies te ondersteun deur ’n omgewing te skep waarin hulle as
mededingende en innoverende besigheidsondernemings kan funksioneer.
Agbiz is geaffilieer by Business Unity South Africa (BUSA) in vennootskap
met Agri SA en die NEPAD Business Foundation (NBF), terwyl hy ook noue
bande handhaaf met internasionale organisasies soos die World Farmers’
Organisation (WFO), die International Chamber of Commerce (ICC) en die
International Food and Agribusiness Management Association (IAMA).
3. ’n Kykie na vyf agri-ondernemings
AFGRI Operations Beperk
Tel: 011 063 2347
[email protected]
www.afgri.co.za
Die volmaakte plaas vereis toewyding, passie, positiewe verandering en
AFGRI. Die eindresultaat is ’n omvattende waardeketting wat landbou as
’n besigheid transformeer, terwyl groei ’n natuurlike uitvloeisel daarvan
is. AFGRI is ’n landboudienste- en voedselonderneming wat op die JSE
genoteer is, en as sodanig het AFGRI die passie, hulpbronne en potensiaal
om boere, produsente en verbruikers van landbouprodukte doeltreffend by
te staan. As Suid-Afrika se markleier bied AFGRI eenvoudig en doeltreffend
sakeoplossings in drie sektore va