466
3. Plaaslike sakeomgewing
akkerbou & tuinbou
Grondbone
Sien ook die hoofstuk “Graan en oliesade”
1. Oorsig
Grondbone word hoofsaaklik in die noordwestelike streke van Suid-Afrika
geproduseer, naamlik in die wes- en noordwes-Vrystaat, Noordwes en die
Noord-Kaap. Dit word ook in Limpopo, Mpumalanga en KwaZulu-Natal
geproduseer, maar op ’n kleiner skaal.
Grondbone word in Suid-Afrika verbou met die oog op veral drie dinge: die
regstreekse bemarking van grondboontjiebotter, olie en oliekoek, en saad.
Die plaaslike verbruiksvereistes vir grondbone is ongeveer 59 700 ton per
jaar.
Suid-Afrika is gewoonlik selfonderhoudend wat die produksie van grondbone
betref.
Statistieke van byvoorbeeld oesberamings, invoer/uitvoer en so meer, is
beskikbaar op die webtuiste van die Suid-Afrikaanse Graan Inligtingsdiens
– www.sagis.org.za.
Grondbone is gewasse met ’n hoë waarde, wat bemark kan word sonder
dat baie verwerking nodig is. Dit is veelsydige gewasse en kan in ’n wye
verskeidenheid produkte gebruik word.
Die olie van grondbone kan gebruik word om mee te kook en om
grondboontjiebotter mee te maak. Olie-ekstrak van die grondboon
kan ook gebruik word as ’n grondstof vir die vervaardiging van seep;
masseerolie vir poliopasiënte; lyf-, skeer- en haarrome; en vloeistofdiëte
wat bedoel is om pasiënte te versterk en hul eetlus voor en ná operasies
te vermeerder.
Die oliekoek, wat ’n neweproduk is van die olie-ekstrakproses, word
gebruik om gom vir hout, dierevoer, kunsmis en antibiotika te maak.
Bronne: Field Crops: Groundnut Market Value Chain Profile 2010-2011 by www.
daff.gov.za; SAGIS en A.M. Cronje
2. Internasionale sakeomgewing
• Die plaaslike prys is ongeveer op gelyke voet met die internasionale
prys en word nie veel beïnvloed deur die grootte van die plaaslike oes
nie.
• Die produksie van grondbone in Suid-Afrika is gewoonlik hoër as die
verbruik daarvan. Ongeveer 26% van die oes word uitgevoer na
lande soos Japan en Nederland. Hoewel dit ’n betreklik klein gedeelte
van die totale oes is, is dit belangrik vir die winsgewendheid vir die
produsente en hoofverwerkers. Daar moet aan fitosanitêre vereistes
en gehaltestandaarde voldoen word en die Beheerraad vir die Uitvoer
van Bederfbare Produkte (PPECB) moet ’n sertifikaat uitreik voordat
grondbone uitgevoer mag word.
• Ons voer hoofsaaklik uit China in, maar ook uit lande soos Malawi,
Maleisië en Indië. Die invoerkoste vir grondbone is 10% van die vab- of
vry-aan-boord-prys.
• Die relatiewe pryse van ander graanprodukte, die wisselkoers, die
beskikbaarheid van saad, die beskikbaarheid en vervoerkoste van
ingevoerde ruolie, asook die verbouing van ander veldgewasse, bepaal
die markvooruitsigte vir die oliesaadbedryf.
• Die grondboonbemarkingseisoen in Suid-Afrika begin op 1 Maart en
eindig op 28 Februarie van die daaropvolgende jaar.
Raadpleeg die maandelikse bulletin op die SAGIS-webtuiste vir die jongste
inligting.
Produsente kan nou voordeel trek uit die vrye mark. Geen statutêre heffings
is betaalbaar nie en die regering mag nie by die bemarking van oliesade
inmeng nie.
Oliesade het ’n regstreekse uitwerking op industrieë waarin gebalanseerde
voere vir ’n groot deel van die insetkoste ve Ʌ