Die Agri Handboek 5de Uitgawe | Page 465

463 12. Interessanthede vir boere Die produksie van groente is ’n boerderyaktiwiteit wat goeie beplanning verg. Dit is ’n sakebedryf in soverre dit finansiële aktiwiteite soos koop, verkoop en geldbestuur behels. U moet beplan alvorens u besluit watter gewasse om te plant, en u vergewis van watter aktiwiteite u op sekere tye moet uitvoer, soos ploeg, bemes, aanplant, besproei, onkruid verwyder, oplei (byvoorbeeld van plante teen traliewerk), oes en versprei. Dit is belangrik om twee keer per jaar te beplan aangesien dit nodig is om verskillende gewasse in verskillende seisoene aan te plant. Hoe om te beplan: • Gebruik ’n jaarbeplanner en almanak om u aktiwiteite te beplan. • Win kennis in en besluit op implemente, werkers, plaag- en siektebeheer, sowel as markpryse. • Stel vas wanneer die markpryse op hul beste is. Onthou om gewasse te roteer en moet nooit dieselfde (of nou verwante) gewasse twee seisoene na mekaar op dieselfde grond plant nie. Gewasrotasie keer dat die grond verarm en voorkom plae en siektes. Goed beplande groenteproduksie lei tot groter winste, hoër opbrengste, gesonde groente en gelukkige families. Bron: Die Departement Landbou, Bosbou en Visserye se boekie Vegetable production. Die groentemark is nie gereguleer nie en is tegnies gesproke toeganklik vir alle produsente. Die wisselende en onsekere aard van die mark noop kleinhandelaars om aan die begin van die seisoen kontrakte met groot verbouers aan te gaan om ’n bepaalde verskeidenheid groente ingevolge vooraf vasgestelde skedules te lewer. Hierdie reëlings bring mee dat munisipale markte ’n kleiner rol begin speel het en maak dit moeilik vir klein, nuwe produsente om toegang tot die groot supermarkte te verkry Ondanks hierdie toedrag van sake is daar geleenthede vir die verskaffing van klein hoeveelhede groente aan ’n verskeidenheid afsetpunte. SPAR, Lombardi Foods, die handelaars by munisipale markte, restaurante, hoekwinkels en smouse bekom almal hul goedere op opportunistiese wyse op informele lokomark-grondslag (spot-market basis) vanaf kleinskaalse leweransiers. Die sleutel tot hierdie geleenthede lê in die wen van kopers se vertroue deur die tentoonstelling van die vermoë om konsekwent groente van ’n hoë gehalte te lewer en dit betyds af te lewer. Ontluikende produsente is ook in ’n gunstige posisie vir die lewering van groente aan die voedselmark in ontluikende informele woongebiede waar uie, kool, aartappels en skorsies stapelvoedsel is en reële inkomste besig is om toe te neem. Organiese sertifisering is ’n manier waarop ontluikende produsente hul van die hoofstroom kan onderskei en mededinging teen hul produkte kan verminder. Nuwe produsente se voorkeurtoegang tot water ingevolge die nuwe Nasionale Water-hulpbronstrategie (2003) en Nasionale Waterwet (1998), bied ontluikende boere wat deur opvangsgebiedbestuursagentskappe verteenwoordig word ’n kragtige bedingingsmiddel in hul onderhandelinge met bestaande kommersiële groenteboere wat bykomende waterbronne soek. Bron: South Africa’s Agricultural Commodity Markets deur Nomonde Qeqe en Aton Cartwright. Hierdie dokument is beskikbaar op die Surplus People’s Projectwebtuiste, www.spp.org.za.