Die Agri Handboek 5de Uitgawe | Page 464

462 9. Tamaties Kry die Tomato Value Chain Profile: 2010-2011 dokument onder die “Publications” en “Agricultural Marketing” opsies by www.daff.gov.za. Die tamatie (Solanum lycopersicum) is naas aartappels die belangrikste en gewildste groentegewas in Suid-Afrika. Tamaties word allerweë as rou groente, ’n bestanddeel in bredies en as aanvulling in die mielie-stapeldieet gebruik. Gevolglik is dit ook een van die vernaamste groentes waarmee kleinskaalse entrepreneurs in die informele sektor smous. Limpopo is die belangrikste tamatieproduksiegebied, gevolg deur Mpumalanga, die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal. Die produksie van tamaties is baie beperk in die wintermaande; tamaties kan gedurende die winter slegs in rypvrye gebiede geproduseer word. Produksie is in die wintermaande ook moontlik met goeie beskerming, soos in kweekhuistonnels. Die prosessering van tamaties behels inmaak, bevriesing, dehidrasie en sousproduksie. Tamaties word verwerk en in die volgende vorme bemark: heel geskilde tamaties, tamatie-en-uie-smoor en tamatiepasta. Dit word ook gesnipper, verpulp en as konsentraat bemark. Botanies gesproke is tamaties ’n vrug. As voedselsoort word dit net soos die komkommer en die skorsie as groente gekategoriseer. 10. Uie Vind die Onion Value Chain Profile: 2010-2011-dokument by www.daff.gov.za. Twee duidelik onderskeibare droë uie word op Suid-Afrikaanse markte verkoop, naamlik die “vars” ui en die “houbare” ui. • Die “vars” of winter en vroeëlente ui is laat in Mei of vroeg in Junie beskikbaar en kan tot aan die einde van November gekoop word. Hierdie uie het ’n hoër water en suikerinhoud en ’n laer pirovaatinhoud as die Kaapse bêre-ui. As verbruikers kan ons hierdie uie herken aan hulle ligter kleur en dunner skil. Hulle raak ook al meer bekend vir hulle matige geur, veral in die VSA, Suid-Afrika, die Verre Ooste en Europa. • Die tweede soort droë ui staan bekend as ’n ui wat gebêre kan word en is in November op die mark beskikbaar, wanneer die beskikbaarheid van vars uie ten einde loop. Die “houbare” ui het ’n donkerder skil wat baie dikker is as dié van ’n vars ui. Bêre-uie is ferm, kompakte uie en heelwat minder vatbaar vir kneusing en vervoerskade. Hierdie soort ui bly gedurende die somermaande, tot in Mei, beskikbaar. Moeder Natuur het die ui ’n voortreflike geur en tekstuur gegee wat uitstekend pas by die smaaklike geregte wat in koeler weer voorgesit word. Albei soorte droë uie is in die handel in drie kleure beskikbaar: rooi, geel en wit. Elk bied ’n eiesoortige gaarmaakgeur. Gaar geel uie lewer ’n donkerder Franse uiesop. Gebraaide wit uie word vir hulle ligte goue kleur gebruik. Rooi uie met hul kenmerkende kleur is die perfekte keuse vir slaaie en effens gekookte geregte. Nuwe kleure, byvoorbeeld pienk uie, gaan in die nabye toekoms bemark word. Bron: Sakata Seed Southern Africa (Edms) Bpk. Kontak hulle by 011 548 2800 of besoek www.sakata.co.za. In Suid-Afrika word uie beskou as die derde belangrikste groentegewas naas aartappels en tamaties. Suid-Afrika verbruik min of meer 346 953 ton uie per jaar. Uie word geprosesseer om ingelegde uie, olie-ekstrak en gevriesde en uitgedroogde uie te lewer. Hulle word meestal gebruik om geur te verleen aan in ’n wye reeks geregte, soos gestoofde disse, pizzas, soppe en bredies. Voorts word uie as garneersel gebruik op toebroodjies en in slaaie. Daarby word uie gebruik as bestanddeel in tallose resepte, as ’n smaakmiddel op toebroodjies, as ’n bykos en as aptytwekker. Met die verloop van jare het die dehidrasie en bevriesing van uie toegeneem. Bron: Onion Value Chain Profile: 20110-2011 by www.daff.gov.za 11. Wortels Kry die dokument Carrot Value Chain Profile: 2010-2011 onder die opsies “Publication” en “Agricultural Marketing” by www.daff.gov.za. Die dokument sluit ’n in- en uitvoeranalise in. Wortels is een van die belangrikste groentesoorte wat in Suid-Afrika verbruik word. ’n Ontleding van vars groente se kwekersmarkpryse toon dat die beste pryse vir wortels in Maart en April, en tot ’n mindere mate in Mei, behaal word omdat dit so moeilik is om wortels in die somer te verbou. Hitte, reën en blaarskimmel is die vernaamste oorsake van oesmislukkings en/of swak gehalte en swak opbrengste. Daar is honderde wortelvariëteite, maar dié groentesoort word hoofsaaklik op grond van die vorm en soort in plaas van die variëteit verkoop. Wortelsoorte is vir spesifieke markte ontwikkel, byvoorbeeld die Imperator-soort wat geskil en gesny word vir stokkiewortelpakke wat veral in die VSA baie gewild is, die groter Danver , Flakkee en Becilium-soorte vir verwerking, Kuroda, Chantenay en Nantes vir bossies, Nantes vir vooraf verpakking, en so meer. Daar is vyf hoofsoorte wortels: • Nantes. Medium lengte (15cm tot 20cm), eenvormige deursnit, stomp punt; gebruik vir bossies, gesnyde wortels, wortelsap, vooraf verpakking en klein worteltjies. Hulle bied ’n goeie eetgehalte en is veral geskik vir plaaslike verkope. Nantes-wortels is vroeër gereed as Imperators en word in Suid-Afrika vir die plaaslike sowel as die uitvoermark gekweek. Hulle markaandeel is besig om toe te neem, hoofsaaklik vanweë die besondere eetgehalte. • Danvers. Groot, medium lengte (18cm tot 22cm); gebruik vir verwerking, veral as blokkies en klein gesnyde worteltjies. Hulle vereis ’n lang seisoen (120 dae) om die gewenste tonnemaat te bereik en het ’n hoë suikerinhoud. Daar is ’n beperkte mark vir hierdie soort wortel in Suid-Afrika. • Chantenay. Breed in die skouer, kort (12cm tot 15cm); dik, helderkleurige kern wat dit geskik maak vir worte