Die Agri Handboek 5de Uitgawe | Page 443

441 akkerbou & tuinbou Boomneute 1. Oorsig Suid-Afrika beskik oor die klimaat en ekologie om ’n erkende produsent en waardetoegevoegde verwerker van die meeste neute te word. Die oestyd in die suidelike halfrond is ideaal vir neute – dit val net voor die grootste internasionale markvraag na neute, naamlik die Kersseisoen. Die vernaamste boomneutgewasse wat in Suid-Afrika verbou word, is makadamia- en pekanneute. Die Industrial Development Corproration (IDC), wat aktief daarna streef om nuwe hoëwaarde-tuinboubedrywe te vestig, het ook okkerneut- en pistasieneut-projekte begin. 2. Makadamianeute Vir inligting oor makadamianeute, asook notas vir kwekers, besoek www. samac.org.za. • Makadamianeute is inheems aan subtropiese Oos-Australië, Indonesië en Nieu-Kaledonië. Hulle word nou ook in ander dele van die wêreld verbou, soos Sentraal-Amerika en Suid-Afrika. • Makadamiabome se grond- en klimaatsvereistes is soortgelyk aan dié van avokadobome en word suksesvol verbou in areas waar avokadobome as gevolg van grondswamsiektes doodgegaan het. • Die vetinhoud van makadamianeute is hoog, ongeveer 70%, alhoewel die grootste gedeelte hiervan gesonde mono-onversadigde vette is. Rou makadamianeute dra die Suid-Afrikaanse hartmerk as ’n erkende deel van die Hart- en Beroertestigting se gesonde eetplan. Makadamianeute is ook ryk aan vitamiene en minerale. Hulle kan rou of gerooster geëet word. • Die bedryf is sterk uitvoergerig en beskik oor enorme groei- en ontwikkelingspotensiaal. • Suid-Afrika het tans ongeveer 27,000 ton neut-in-dop, wat behoort te groei oor die volgende sewe tot tien jaar soos nuwe aanplantings gedoen word en nuwe boorde hul volle produksie bereik. • Die Suid-Afrikaanse bedryf is trots op sy sterk privaatonderneminggrondslag en die beheer- en bestuurstrukture word befonds, gevestig en bestuur deur die kwekers, verwerkers en bemarkers, wat hulle tot die suksesvolle toekoms van die bedryf verbind het. • SAMAC (kyk opskrif 9) het ook kontak geïnisieer met ander makadamianeut-produsentlande in Afrika, soos Kenia, Malawi en Zimbabwe, om waar nodig samewerking te bevorder. • SAMAC is ’n lid van die International Tree Nut Council (INC), en ook ’n lid van die INC se makadamia-komitee wat ’n gemeenskaplike visie van toenemende wêreldwye makadamia-verbruik fasiliteer. 3. Pekanneute Vir inligting oor pekanneute, besoek www.sappa.za.org. • Die pekanneut is afkomstig van die VSA en is verwant aan die bekende okkerneut wat in gematigde streke verbou word. Pekanbome floreer ook in Suid-Afrika. Hulle word verbou in die Vaalharts-gebied, Tzaneen, Magoebaskloof, Louis Trichardt, Levubu, Witrivier, Nelspruit en op die walle van die Oranjerivier naby Kimberley. Daar is ook ’n paar produsente in Noord-KwaZulu-Natal. • Pekanneute is voedsaam en ryk aan proteïen, sink, vitamiene en koolhidrate. Hulle het ook eienskappe wat cholesterol verlaag en die bome se sterk hout word vir meubels en vloere gebruik. • Pekanneutbome groei baie vinnig en raak redelik hoog as hulle groei nie beheer word nie. Hulle groei welig in valleie en langs riviere waar dit in die winter koud is en ryp voorkom. Hulle produseer elke tweede jaar ’n goeie oes, met ’n swakker oes elke afwisselende jaar (alternatiewe drag). • Die gemiddelde opbrengs is 1,5 ton per hektaar. Die optimale opbrengs in die Oranjeriviergebied is ongeveer 3 ton per hektaar. • Kommersiële kultivars is Ukulinga, Barton, Moore (Bester), Choctaw en Wichita. Laasgenoemde twee kultivars word nie aanbeveel vir gebiede met hoë reënval en hoë humiditeit nie, omdat skurfsiekte ’n probleem kan wees. • Die uitvoermark vir pekanneute groei, met die meeste pekanneute wat na die VSA en China uitgevoer word, terwyl Indië toenemende hoeveelhede invoer. • Die bedryf neem met bykans 2 000 hektaar per jaar toe, waarvan SuidAfrikaanse produksie verwag om 45 000 ton per jaar te wees teen 2020. • Vir ’n plaas met ’n betroubare waterbron en ’n gunstige klimaat, is pekanneute ’n goeie besproeiingsgewas om te oorweeg. •Pekanneute kan ’n goeie manier wees om boerderyrisiko’s te versprei, veral gesien in die lig van die uitvoerpotensiaal. ’n Waarskuwing word egter gerig dat beplanning, en veral finansiële beplanning, baie belangrik is: wanneer na pekanneute oorgeskakel word, sal daar geen inkomste wees totdat die bome begin dra nie. Bronne: South African Pecan Producers Association (SAPPA); “Pecans & profits”, Farmer’s Weekly 14 Januarie 2011; “SA pecan industry set for a boom”, Farmer’s Weekly 21 Januarie 2011 4. Kasjoeneute • Kasjoebome is inheems aan die kusduine van die noordoostelike dele van Brasilië. • ’n Plant kan binne drie jaar van ’n saad tot ’n saadprodusent groei. Voordelige eienskappe van kasjoebome • Dit produseer kasjoeneute. • Wyn kan gemaak word van die kasjoe-appelsap en van hierdie wyn kan brandewyn gedistilleer word. • Hulle is goeie skadubome omdat hulle immergroenblare en ’n wydverspreide blaardak het. • Sap met insekdodende eienskappe kan van die stamme getap word. Dit kan ook as ’n vernis gebruik word. • Kasjoebome kan vir brandhout en houtskool afgekap word. Waardetoegevoegde geleenthede: Benewens die kasjoekern wat net 20% van die neut uitmaak, bestaan daar verskillende ander geleenthede: • Kasjoebotter. • ’n Sap wat ryk aan vitamien C is, kan ook onttrek word uit die k asjoeappel, ’n vals vrug wat om die neut vorm. • Die Brasiliaanse lugdiens, Varig, bedien kasjoe-appelsap op sy vlugte en die Ngutshane-landgoed ondersoek die moontlikheid om ’n soortgelyke projek in Suid-Afrika te loods. • Selfs die giftige kasjoeneutdopvloeistof kan in nuttige produkte verwerk word, soos epoksiehars, skeepsvernis en wryfstof vir motorremvoerings, wat beteken dat die potensiaal vir produkte wat daaruit voortspruit, groot is. Bron: Inligtingspaket oor kasjoeneute by www.daff.gov.za.