260
Plantmetode
• Alle gewasse wat in die tabel genoem word, kan meganies of met die
hand geplant word. In laasgenoemde geval kan ’n skoffel of ’n graaf
gebruik word.
• Moenie die grond vasstamp nie, maar dit moet ferm gemaak word om
goeie kontak tussen die saad en die grond te verseker.
Kunsmistoediening
• Maak seker dat die grond genoeg voedingstofinhoud het vir die
groei van die gewas deur kunsmis te gebruik voordat daar geplant of
topbemesting toegedien word. Kompos of organiese materiaal (mis)
moet drie tot vier weke voordat daar geplant word, toegedien word.
• Kunsmis kan toegedien word wanneer die resultate van grondontleding
aandui watter voedingstowwe in die grond nodig is. Die resultate kan
ook aandui watter tipes aanbeveel word. Om grond te laat ontleed,
kontak die Departement van Landbou of die LNR in u gebied, ’n
voorligtingsbeampte of een van die rolspelers uit die hoofstuk oor
grondsoorte. Die tipe kunsmis wat die beste geskik is, hang dikwels
af van die verwagte opbrengs en die vorige oes (in die geval van
gewasrotasie).
• Die optimum pH vir die meeste gewasse is 4,5 tot 5,5 (KCI). Kalk moet
toegedien word in grond met ’n pH laer as 4,5. Hoendermis verlig ook
pH-probleme.
Ekonomie
• Voordat daar geplant word, neem kennis van die vereiste insette en
doen ’n beraming van die koste. Moenie die koste van individuele
produkte in isolasie bekyk nie, maar kyk na ’n kombinasie van hulle
almal. Soms sal dit nodig wees om meer te belê aan die begin van ’n
seisoen, maar u sal agterkom dat u veel minder aan die einde van die
seisoen gaan bestee.
• Oorweeg produkbemarkbaarheid voordat u aanplant. Vergelyk die
insetkoste met die inkomste uit die oes.
Siektes en insekplae
• Gewasse van dieselfde familie word
dikwels deur dieselfde groep plae en
siektes aangeval. Verwante gewasse moet
dus nie in agtereenvolgende aanplantings
ingesluit word en selfs nie in dieselfde
driejaar-rotasieprogram nie (byvoorbeeld
swartbekbone, grondbone, bambaragrondbone of sojabone).
• Insekdoders moet gebruik word soos
aanbeveel word om opbrengsverlies te
voorkom.
• Landerye moet gereeld ondersoek word
om plae in ’n vroeë stadium raak te sien,
veral in die geval van mielies en katoen.
• Insekdoders kan met die hand of meganies
toegedien word.
Onkruid
• ’n Onkruidvrye omgewing tydens die
saailingstadium word hoogs aanbeveel,
want teen die tyd dat die onkruid ontkiem,
sal die gewas reeds goed gevestig wees
en ’n mededingende voordeel geniet.
Onkruid kan óf met die hand beheer
word, óf meganies óf deur die gebruik
van onkruiddoders (veral wanneer
bewaringsvoorbereiding gebruik word). ’n
Kombinasie van genoemde drie metodes
kan ook gebruik word.
• In die geval van chemiese bestryding
moet daar veral aandag geskenk word
aan die insekdoder se residuele periodes
waartydens die insekdoder aktief in die
grond is. Indien ’n gewasrotasiestelsel
gevolg word, kan die insekdoder wat
toegedien word, opvolgende gewasse
beskadig.
• Hou in gedagte dat die kleifraksie van die
grond ’n invloed het op die kwaliteit en
kwantiteit van die insekdoder wat nodig is
– raadpleeg die produkaanwysings.
Onthou: Wanneer chemikalieë gebruik word,
moet u beskermende klere dra om u oë, gesig en
vel te beskerm. U moet ook seker maak dat alle
chemikalieë weg van voedsel, voer en saad en buite
bereik van kinders toegesluit word. Dit is belangrik
om die instruksies op die etiket te lees en na te
volg.
Oes
• Die meeste gewasse kan meganies of met
die hand geoes word. Hierdie metodes kan
ook gekombineer word. Indien daar met
die hand geoes word, kan daar meganies
of met die hand gedors word.
• Pasop vir die beskadiging van saad
tydens oestyd (veral beskadiging van
peulgewasse).