159
hulpbronne en goeie
landboupraktyk
Vleilande
1. Oorsig
• Vleilande is kompleks, fassinerend en dinamies. Verder is vleilande
hardwerkende ekostelsels wat verskeie voordele, waarvan sommige
nie waarneembaar is nie, vir mense inhou.
• In die voorsiening van hierdie ekostelseldienste, speel gesonde vleilande
’n sleutelrol in die gesondheid van die mens. Vleilande is waardevolle
bates vir boere, stroomafwatergebruikers, gemeenskappe in die
omgewing en die samelewing as geheel. Indien ons gesonde vleilande
beskerm en gedegradeerde vleilande rehabiliteer, kan ons baie swaarkry,
wat deur droogtes, oorstromings en bedreigde lewensonderhoud
veroorsaak word, verminder – veral vir die kwesbaarste lede van die
samelewing.
• Namate verstedeliking toeneem, neem die druk om voldoende
sanitasie en water te verskaf ook toe. Suid-Afrika se waterbronne is
reeds onder baie druk en in baie gebiede toon dit, as gevolg van die
hoë aanvraag, reeds tekens van stres. Die oplossing vir ons dreigende
waterkrisis lê nie slegs in komplekse en duur ingenieursbedrywighede
nie. Die natuur (Vleiland-eksostelsels) bied gratis en kragtige tegnologie
wat deur die mens erken, gerespekteer en beskerm moet word.
Alhoewel vleilande nie die enigste oplossing vir skoon water is nie, maak dit
’n belangrike deel van die oplossing uit.
2. Wat is ’n vleiland?
Vleilande is gebiede in die landskap waar die water in riviere en strome
stadiger begin vloei en uitsprei. Dit het tot gevolg dat die sedimente en
voedingstowwe in die water afsak. Met verloop van tyd word vleilande
vrugbare gebiede wat goeie habitat aan plante (biesies, riete, waterlelies
en watergras) en verskeie organismes (bv. mikrobes, gespesialiseerde
watervoëls, insekte, ens.) bied. In elke hektaar gesonde vleiland kom daar
meer lewe as in enige ander habitat voor.
In die Nasionale Vleilandinventaris is daar reeds meer as 114 000 vleilande,
wat heelwat in grootte en waarde verskil en ongeveer 3,6% van Suid-Afrika
se grondgebied beslaan, aangeteken. Verskillende vleilandtipes voorsien
verskillende ekostelseldienste, insluitende die voorsiening van skoon water
en koolstofberging. Danksy die natuurlike prosesse wat in die plante en
grond plaasvind, help vleilande ook om die gehalte van water te verbeter.
Vleilande verminder ook die skadelike impak van oorstromings, bestry erosie
en dra by tot ’n meer stabiele stroomvloei regdeur die jaar. Vleilande bied
belangrike skuiling vir gespesialiseerde plante en wild diere, en voorsien ook
voedsel, weiding en bou- en handwerkmateriaal aan mense. In stedelike
gebiede is hulle belangrike groen gebiede.
Vleilande en water
Vleilande speel ’n belangrike rol in die standhoudende voorsiening van
skoon water en waar mense water direk uit natuurlike bronne soos riviere
gebruik, speel vleilande ’n groot rol in die gesondheid van mense. Gesonde
vleilande in rivierstelsels dra ook grootliks by tot die vermindering van die
koste om gepypde water te suiwe.
Vleilande is uniek ontwerp om water deur natuurlike prosesse te suiwer. Dit
tree as ’t ware as die niere van die landskap op. In die eerste plek vertraag
dit die vloei van water, wat weer veroorsaak dat die sediment in die water
afsak. Vleilandplante, soos biesies en riete, en vleilandgrond en mikrobes
stabiliseer en berg of gebruik baie besoedelende stowwe, insluitende
oortollige voedingstowwe en gifstowwe van riool, landbouchemikalieë
en kunsmisstowwe. Dit help ook om die moontlikheid van oormatige
voedingstofverryking stroomaf te verminder. Vleilande kan ook swaar
metale soos kadmium, sink en kwik , wat deur myne en industriële prosesse
afgeskei word, opvang. Die wortels van sommige vleilandplante skei
gifstowwe af wat sommige patogeniese bakterieë vernietig.
Vleilande is ook “sponse” - dit vertraag vloedwaters, berg water wanneer dit
reën en laat dit weer stadig tydens die droë seisoen vry om standhoudende
riviervloei te verseker. Spesiale vleilandgrond, soos turfgrond, is uiters
doeltreffende waterberging en filters. Turfgrond kan ’n duisend keer sy eie
gewig in water hou en is dus in ’n halfdroë land soos Suid-Afrika waardevol.
Sommige vleilande speel ook ’n rol in die aanvulling van grondwater.
Lewe in vleilande
Vleilande is bergingsplekke vir biodiversiteit. Hulle onderhou plante en
diere wat spesiaal aangepas is vir wateromgewings en nêrens anders kan
leef nie. Hulle bied ook voeding, en slaap- en broeiplek vir verskeie ander
spesies. Vleilande in stedelike gebiede bied selfs belangrike skuiling vir klein
soogdiere, voëls en amfibieë.
Sommige diere is heeltemal van vleilande afhanklik terwyl ander vleilande
slegs op sekere tye gebruik. Die lelkraanvoël is byvoorbeeld van vleilande
afhanklik om te broei, en bedags gebruik seekoeie vleilande as skuilplek.
Die verskillende tipes vleilande regoor die subkontinent onderhou
die groot verskeidenheid watervoëls in suidelike Afrika (altesame 130
spesies). Die vleilande van suidelike Afrika is van internasionale belang
aangesien hulle die suidelike bestemming van baie trekwaadvoëls is.
Vleilande en oorstromings
Gesonde vleilande help om die impak van vinnig vloeiende oorstromings te
verminder. Omdat vleilande gewoonlik platter gebiede met moerasagtige
grond, riete en ander hoë, digte plante is, dwing dit rivierwater om stadiger
te vloei en te versprei. Alhoewel ’n groot deel van die negatiewe impak van
vloedwater te wyte is aan mense wat hul huise of paaie op vloedvlaktes of
te na aan riviere bou en op vleilande boer, het die vernietiging van vleilande
die natuurlike landskap se vermoë om normale skade tydens reën- of
droogteseisoene te beheer verder ingekort.
Palmietvleilande is goeie voorbeelde van ekostelsels wat die impak
van oorstromings doeltreffend kan verminder. Waar palmiet,’n unieke
vleilandplant, verwyder is, word riviere dikwels gesedimenteer en hul
oewers word deur onbeheerde vloedwater uitgekalwe.
Vleilande en lewensonderhoud
Mense en vleilande loop ’n lang pad saam. Benewens hul bydrae tot ons
lewensonderhoud, bied vleilande ook ’n bron van inkomste aan baie mense.
Dit is dikwels arm mense op die platteland wat vir hulle lewensonderhoud
van vleilande afhanklik is.
Om hierdie lewensbestaansvoordele wat vleilande bied volhoubaar te
maak, moet vleilande oordeelkundig benut word. Mense sal ’n volhoubare
lewensbestaan kan voer as hulle die hulpbronne só kan benut dat dit nie die
hulpbronne onomkeerbaar uitput nie.
Op ’n bestaansvlak wissel hierdie voordele van veldkos en weiding
tot materiaal vir bou- en handwerk. Die suiwering en voorsiening van
skoon water hou geweldige gesondheidsvoordele in, wat op hul beurt ’n
ekonomiese en sosiale impak het. Op ’n hoofstroom- ekonomiese vlak
is verskeie sleuteltoerismebedrywe op vleilande gebaseer. In sommige
gevalle is vleilande ook die ruggraat van plaaslike ekonomieë. Namate die
belangstelling in inheemse veselprodukte toeneem, word die verkope van
handwerk al belangriker in die voorsiening ’n inkomste vir plattelandse
huishoudings.
In Mbongolwane in die noorde van KwaZulu-Natal kom ongeveer ’n derde
van huishoudelike inkomste uit die verkope van handgemaakte produkte
wat van vesel, wat uit vleilande afkomstig is, gevleg is. Ongeveer 70 vroue
van twee handwerkgroepe, Ikhowe en Thubaleth’elihle, oes vleilandriet
soos induma en ikwane op volhoubare wyse vir die vervaardiging van
konferensiesakke, lêeroortreksels en korporatiewe geskenke. Die
produkte word tuis vervaardig en die vroue verdien jaarliks ongeveer
R200 000 daarmee. In Maputaland help die iSimangaliso Wetland Park
Authority ongeveer 200 vroue om hulle produkte soos lampskerms,
blindings en plekmatjies aan winkels en gasteplase te verkoop. ’n
Verskeidenheid vleilandgrasse asook grasland- en bosspesies, soos die
ilala-palm, word gebruik. Lees meer oor die iSimangaliso –vleilandpark
op www.isimangaliso.com.